In die aanloop tot die 2023-wyndruifoes, wat van Januarie tot April strek, dui die tweede van vier oesskattings deur wingerdboukundiges en produsentekelders op ’n kleiner oes as in 2022 én as in die eerste skatting wat in Desember 2022 gepubliseer is. Die oes word in hierdie vroeë stadium kleiner beraam en dit dui op die moontlikheid dat dit die vierde kleinste oes in 17 jaar kan wees.
“Die seisoen is gekenmerk deur meestal gemiddelde koue eenhede, en minder sneeu-neerslae op bergpieke as vorige seisoene,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) uitreik.
“Dit was egter steeds genoeg om in wingerde se kouebehoeftes te voorsien. Wintertemperature was meestal warmer in al die wynproduserende streke en die reënval was noemenswaardig minder, met die uitsondering van die Noord-Kaap.”
Die meestal warmer lente en droë grondtoestande het daartoe gelei dat bot oor die algemeen vroeër plaasgevind het. Die egaligheid van bot was bevredigend, maar vir sekere kultivars soos chardonnay was die bot in sekere areas ongelyk. Die meeste wingerde was gedurende blomtyd steeds ietwat vroeër as normaal en variasie het ook voorgekom in die set van kultivars.
Noemenswaardige verandering in die seisoen het plaasgevind gedurende die tweede week van Desember waartydens harde reënbuie groot verligting gebring het tydens ’n meestal warm en droë seisoen. Hierdie reën het welkome druk op besproeiingskedulering gebring met grondwatervlakke wat onder normaal was. Dit het ook druk verlig omdat produsente nie behoorlik besproeiingskedulering kon toepas weens beurtkrag nie. Saam met die reën was daar sporadiese haelskade in Paarl, Worcester en Robertson. Swamsiektedruk, veral witroes en donsskimmel, is ook verhoog deur die nat toestande en produsente moes spuitprogramme daarvolgens aanpas. Skade het ook voorgekom aan paaie en ander infrastruktuur.
“Die afname in die skatting word hoofsaaklik aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap, Olifantsrivier en Swartland toegeskryf,” sê Schutte.
“Verder sal hoë siektedruk, veral witroes-infeksies in Noord-Kaap, Olifantsrivier, Swartland, Paarl, Stellenbosch, Kaap Suidkus en Kaapstad, ’n negatiewe impak op die oes se grootte hê.
Hittepieke in Desember en Januarie het ook veral in die Swartland, Worcester en Breedekloof sonbrand veroorsaak. Oor al die streke, veral die intensiewe besproeiingsgebiede, sal die gebrek aan elektrisiteit om besproeiingspompe te laat werk ’n negatiewe impak op die oesgrootte hê.”
Wyndruifproduksie in die Klein Karoo word hoër as in 2022 se seisoen geskat danksy jong wingerde wat in produksie kom en watervlakke wat tans belowend lyk.
Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders word in die derde week van Februarie 2023 uitgereik.





