’n Man van Kleinmond is op 31 Januarie vanjaar in Yzerfontein deur lede van die Darling-polisie weens beweerde onwettige perlemoenstropery in hegtenis geneem. Die verdagte is in die besit van 33 groot perlemoene betrap nadat die boot by die sleephelling in die hawe ondersoek is.
Hy het op 1 Februarie in die landdroshof op Malmesbury verskyn waartydens hy op R3 000 borgtog vrygelaat is.
Die verdagte moet op 14 Februarie weer in die hof verskyn.
Volgens sers. Johnatan Filander, Darling se polisiewoordvoerder, is dit die eerste geval van perlemoenstropery in langer as ’n maand waartydens iemand in hegtenis geneem is. – Charlotte Lesch




