Die Wes-Kaapse departement van onderwys het verlede Donderdag (2 Februarie) die provinsie se top-matriekleerders en -skole in verskeie afdelings vir die 2022-skooljaar aangewys.

Ashton Public Combined School is die enigste skool in die Langeberg-omgewing wat ’n prys gewen het vir die grootste verbetering in die gemiddelde syfers van isiXhosa as huistaal – van 58% in 2021 na 64% in 2022.

Volgens Izak Lyon, die skoolhoof, is die skool baie “opgewonde” oor hierdie prestasie, wat leerders sal aanspoor om in 2023 nóg harder te werk.

Lyon sê die skool het ’n drie-jaar-plan ingestel om sy leerders se isiXhosa-punte te help verhoog.

Hierdie plan het ingesluit om gereelde ekstra klasse aan te bied, waar vorige jare se matriekvraestelle deurgewerk is om leerders meer vertroud te maak met die soort vrae wat hulle sal moet beantwoord.

Ook, na afloop van die 2022-matriekeindeksamen, is die Hoërskool Robertson as een van die top-10-skole in Suid-Afrika aangewys wat fisiese wetenskappe betref.

Altesaam 19 leerders het die fisiese wetenskappe-eksamen afgelê, onder wie agt onderskeidings behaal het. Dit het die HS Robertson in die negende plek in die hele Suid-Afrika geplaas. Die skool het gesê hierdie uitstekende prestasie sou nooit moontlik gewees het sonder die onderwyser Suzanne Stemmet se absolute passie vir haar vak, haar harde werk, haar deursettingsvermoë en haar volharding nie.

“En natuurlik ook nie sonder die 2022- fisiese wetenskappe-matriekklas wat hierdie passie en toewyding hul eie gemaak het nie.”

Volgens David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, is die 2022-matrieks een van die grootste groepe wat hul eksamen suksesvol voltooi het – en dit ten spyte van beurtkrag en die Covid-19-pandemie.

“Die Wes-Kaap se slaagsyfer het ten spyte van dié uitdagings tot 81,4% gestyg, terwyl ons terselfdertyd ’n retensiekoers van byna 70% behaal het, wat daartoe gelei het dat 49 102 kandidate matriek geslaag het,” het Maynier verduidelik.

Die onderwysdepartement het ook aangekondig dat onderpresterende skole met ’n slaagsyfer van minder as 60% van 38 skole in 2021 tot 30 in 2022 afgeneem het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article