“Dit is pure jaloesie,” vertel die ouma van die 18-jarige Jeniqo Booise wat Saterdagaand in Riebeek-Kasteel deur jong mans aangerand is in ’n voorval wat daarna tot groter drama gelei het.
Die familie se huis is later dieselfde nag deur ’n groep kwaadstokers verwoes, en niemand is ontsien nie, nie eens Ouma Saartjie Mckrieling (76) nie.
Ouma Saartjie, wat ook onder die skurke se pangas deurgeloop het, sê twee jongens het eers haar kleinkind, wat ’n kranige rugbyspeler is, aangerand. “My klong het hom te hulp gesnel en die twee goed gekarnuffel.”
Volgens McKrieling het die twee verdagtes met ongeveer 30 makkers teruggekom om haar en haar kleinkinders aan te val. McKrieling, wat self twee pangahoue weg het, sê tot hul meubels is deur die skurke opgekap. “Hulle het gekom om wraak te neem omdat my seun sy suster se kind kom help het,” vertel sy.
Volgens Lydia Booise, Jeniqo se ma, is haar seun op sy jong ouderdom baie doelgerig en hy het ’n goeie werk. “Hy is iemand vir wie sy werk en rugby belangrik is, en meng hom nie met verkeerde vriende nie,” vertel sy. Sy sê die familie moet nou eers net herstel sodat die geregtelike proses sy gang kan gaan. “My ma is baie getraumatiseer,” vertel Lydia.





