Die begrotingsrede wat op 22 Februarie deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, gelewer is, het aan vele punte geraak, insluitend Eskom, belasting, maatskaplike toelaes, finansiering om misdaad en korrupsie te bestry, onderwys asook die landbousektor.

Die belangrikste punt en ’n onderwerp wat op vele Suid-Afrikaners se lippe is, was immers Eskom en hoeveel van die land se kostes op dié instelling bestee gaan word.

Volgens Godongwana is die ekonomie nou groter as voor die Covid-19 pandemie, maar het steeds nie aan die ekonomiese vooruitsigting wat die staat beplan het, voldoen nie.

Volgens hom het die tesourie beplan vir groei van 1,6% van 2023 tot 2025, maar dit beloop tans 1,4%.

Die hoogtepunte wat bespreek is, sluit in:

  • Tydens die begrotingsrede was dit aangekondig dat die staat R254 miljard skuldverligting aan Eskom gee, en om dié rede sal die regering se skuldvlakke R5 840 miljard beloop teen 2026 wat dan ook rentekoerse sal opjaag van R336,8 miljard per jaar tot R397,1 miljard teen 2026.
  • Nóg ’n reddingsboei wat na Eskom gegooi word, is dat munisipaliteite moet gebruik van voorafbetaalde kragmeters (geen datum aangekondig nie).
  • Godongwana het verder verduidelik dat individue hul belasbare inkomste meer kan verlig deur van sonkrag gebruik te maak.
  • 25% tot ’n maksimum van R15 000 kan vanaf 1 Maart geëis word vir die installering van sonpanele, en besighede kan 125% eis reeds van vandag af.
  • Belastingverligting is ook aangekondig, wat individue se beursies verder sal rek met geen verhogings wat aangkondig was nie. Volgens die minister van finansies, sal die regering R1 690 miljard se belasting invorder – R6 miljard meer as wat in Oktober 2022 voorsien is, maar dit bied steeds R13 miljard se belastingverligting. Individue sal slegs inkomstebelasting betaal as hulle meer as R95 750 per jaar verdien.
  • Brandstofheffings en padongelukheffings word die tweede agtereenvolgende jaar nie verhoog nie.
  • Die bedrag wat aftreders belastingvry kan onttrek, beloop nou R550 000 en die tweepot-aftreestelsel word nog ’n jaar uitgestel.
  • Sondebelasting word verhoog, en rokers moet hulle regmaak om 98c meer vir ’n pakkie sigarette te betaal. ’n Blikkie bier word met 10c meer belas, en ’n bottel wyn met 18c terwyl spiritualieë soos brandewyn of gin met R3,90 styg.
  • Kindertoelaes styg van R480 tot R510, en pensioentoelae’s tot R2 090 met R90. Ongeskiktheidstoelae’s sal ook tot R2090 styg en pleegsorg tot R1 130.
  • R1 miljard word aan die Suid-Afrikaanse lugdiens (SAL) oorhanding om dié lugleerdery weer op standaard te kry.. R3,4 miljard sal toegestaan word aan die poskantoor.
  • Geen verhogings in suikerbelasting is aangekondig nie. – Jana Scheepers

*Bronne wat vir hierdie berig geraadpleeg is, sluit in Netwerk24 en Moneyweb .

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article