’n Caledon-speler word deur twee Montagu-verdedigers in sy spore gestuit. Die tuisspan se keerwerk in die tweede helfte was uitstaande.


Norman EvertsonDie Montagu-rugbyklub en sy eweknie van Caledon het mekaar die afgelope Saterdag (4 Maart) in ’n vriendskaplike rugbywedstryd op die King Edward sportterrein in Montagu gespeel is, die stryd aangesê.

Die twee spanne, wat verlede jaar in die Boland-rugbyunie se Top 12-kompetisie ook kragte gemeet het, het mekaar met mag en mening gepak.

Dit was hard en fisiek soos ’n ligawedstryd, maar Montagu het die botoon in die skrums gevoer.

In die lynstane was die stryd meer mededingend.

Die bal is meesal deur die springers na hul span se kant toe geklap, maar is soms ook skoon gevang.

Teen halftyd was die spanne gelyk (10-10) nadat albei spanne twee onverdoelde drieë aangeteken het.

Jacky de Villiers (binnesenter) en Niven Langdown (losskakel) het vir die tuisspan (Montagu) gedruk.

Vir die besoekers het Ruben van Wyk (regtervleuel) en Devon Benjamin (haker) agter Montagu se doellyn gaan kuier.

Die strawwe stryd het ná rustyd verwoed voortgeduur.

Beide spanne het goed verdedig, maar Montagu se keerwerk in die twee helfte was uitstaande. Die besoekers kon geen verdere punte ná draaityd aanteken nie.

Montagu kon wel sewe punte by sy rustydtelling voeg danksy ’n tweede drie deur De Villiers en ’n suksesvolle doelskop deur Langdown, wat die wedstryd 17-10 in die tuisspan se guns beklink het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article