’n Groot gees in die Moorreesburg-gemeenskap is onlangs oorlede.
Cornelius McKrieling, ’n voormalige onderburgemeester van die Swartland-munisipaliteit, is Woensdag 8 Maart ná ’n siekbed oorlede.
Die Swartland-munisipaliteit het McKrieling se afsterwe bevestig en sy medelye betuig. McKrieling het van 2000 tot 2009 as ’n lid van die Swartland- munisipale raad gedien en was uitvoerende onderburgemeester van Junie 2003 tot Julie 2009.
Hy was ook in die plaaslike gemeenskap baie nou betrokke op misdaad- en sportgebied. Hy was lank ondervoorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, het op verskeie rugbybestuurspanne gedien en was ’n stigterslid van die Samoa-rugbyklub.





