Melandrie Bester van Allan Gray en Louis Jonker van BVSA se tak in Malmesbury het gaste gedurende die Malmesbury-sakekamer se eerste ledevergadering vir die jaar toegespreek en punte soos die plaaslike markte, beleggings en die huidige kragkrisis bespreek.
Bester het verduidelik hoewel niemand weet wat die toekoms inhou nie, Allan Gray wye nasionale en internasionale agtergrondwerk doen deur maatskappye te ontleed. Na aanleiding van dié bevindinge word bepaal wat hulle dink goeie aandele is om in hul fondse te hou.
As dit by individuele en kleinsake-besluite kom, is ’n persoonlike aanslag en meer persoonlike insig nodig.
Finansiële adviseurs soos BVSA kan hier help aangesien hulle ’n persoonlike ontleding van die kleinsake-onderneming en individuele situasies doen en daarvolgens doelgerigte raad vir die spesifieke individu of kleinsake-onderneming gee. Fondsbestuurspanne kyk na faktore in die ekonomie en probeer risiko’s bepaal wat ’n invloed kan hê op kliënte se ondernemings en probeer hulle daarteen verskans.
Bester het gewaarsku dat tien moeilike jare kan voorlê vir markte, maar omstandighede lyk goed vir ‘stock pickers’. Produkte op die markte is bespreek, maar sy het ook oor die kwesbaarheid van die mark uitgebrei, soos geleenthede vir beleggers, en ook gesê dat individu nie al hul eiers in een mandjie moet hou nie, aangesien dit belangrik is om te diversifiseer en risiko te bestuur.
Bester het verder klem daarop gelê dat beleggings langtermyn is en dat alle beleggings kwesbaar is. Sy het ook dieper in die private sektor en die risiko’s rakende bestaande beleggings gedelf. “Beleggings is langtermyn.”
Wat die kragkrisis betref, sê sy groenenergie bly ’n fokuspunt, maar vorder hopeloos te stadig om groot vordering binne die kragnetwerk se kapasiteit te maak.
Bester het gesê die begrotingsrede het nie veel afgewyk van die vorige jaar nie, maar het wel rede om positief daaroor te wees. “En onthou die belangrike riglyn vir beleggings: Time in the market not timing the market – moenie emosionele besluite neem nie.”. Die feit dat die land op die gryslys is, is ook volgens Brian Diebrits, voorsitter van die Malmesbury-sakekamer, ligtelik aangeraak.



