Op my kind se navraag oor waar ’n mens sekere produkte in Malmesbury kan koop, gee ek hom die winkel se naam en vertel die storie wat daardie winkelassistent my vertel het: Sy het in ’n baie arm gesin grootgeword en soms moes haar ma vir hulle drie keer per dag mieliepap as maaltyd gee.
Maar, dan kleur sy die pap en die kinders raak verwonderd oor blou of rooi mieliepap – dan raak etenstyd ’n fees.
“Waarom dan altyd ’n stórie daarby?” sal my kind dan kla.
Soms loop mens ’n ware verhaal raak wat vermaak, of so roerbaar menslik is, dat dit in jou gedagtes vassteek. Soos die onlangse beriggie in Somerset-Wes se dorpskoerant oor Arleen Seyfried. Op 87 moes sy haar winkel vir tweedehandse boeke verkoop. Toe sy dit as jong weduwee gekoop het, was haar enigste kind ses. Hierdie winkel en sy getroue klante was 51 jaar lank haar veilige hawe, maar nou moet Arleen (steeds enkellopend) dit in iemand anders se hande oorgee.
Die gulsige kraaie van ’n dorp in Alaska is eweneens indrukwekkend, al is dit om die verkeerde redes. Hulle skuil naby winkelsentrums en val inkopiegangers wat terugstap motor toe, rasend aan. Hulle weerstaan hul slagoffers se gille en klappe, want hulle vlieg nie weg sonder ’n stuk groente of vleis in die bek nie. “Verstedeliking versteur die voëls se natuurlike habitat, vandaar hierdie gedrag,” sê kenners.
Die afgetrede dr. Faffa Malherbe vertel in sy boek oor sy lewe as huisdokter ’n snorkstorie: Buurman A se hewige snorkery hou Buurman B en sy gesin dikwels wakker. Arme Mevrou A hoor een nag toe haar man uiteindelik omdraai en ophou snork, hoe hul buurman kliphard sug en sê: “Dankie tog, daar’s hy uiteindelik dood.”
Die Swartland is propvol lieflike verhale wat wag om neergeskryf te word. Soos Tannie Naomi Basson wat in haar lewe etlike duisende melkterte gebak het; Mamreweg-kelders wat in die vorige eeu op die randjie van ondergang was toe raadgewers sê “go big or go home”. Darling-kelders het kort daarna ’n splinternuwe (wen)roete ingeslaan.
So ook die agtergrond hoe Trevor Rinkwest sy liefde vir en kennis van oudhede ontwikkel het – ’n passie wat sy lewe oorgeneem het. Dit het begin omdat hy as seuntjie gereeld saam met sy pa gery het om oumense te besoek. Trevor het graag onder ’n outydse tafeltjie ingekruip en van daar die indrukwekkende meubels en matte sit en bewonder.
Aansluitend hierby sê C. Johan Bakkes verlede week tydens sy biblioteekpraatjie in Malmesbury dat elke mens se lewensverhaal belangrik is.
“Skryf jou kinders se stories neer, vertel dit gereeld vir hulle. Hulle sal later dankbaar wees, want elke mens se verhaal is uniek.”
Buitendien is ’n mens se lewe soos ’n boom – as jou wortels nie gegrond is in iets wat jy kan geniet nie, soos stokperdjies of die stories van jou komvandaan, sal elke nietige tipe lewenswind jou sommer-so maklik omwaai.





