Die Hermanus-FynArts-kunstefees keer van 9 tot 18 Junie terug om die somber winterlandskap te verhelder met sy kenmerkende verskeidenheid aanbiedinge.
Vanjaar se program sluit oudergewoonte nie net klassieke musiekkonserte, kunsuitstallings, drama, gesprekke en boekbesprekings in nie, maar ook werksessies, wynproeë en sjefdemonstrasies.
Een van die jaarlikse hoogtepunte is die openingskonsert wanneer die aanbreek van nog ’n FynArts-kunstefees, nou in sy elfde jaar, gevier word.
Vanjaar se geleentheid is ook ’n bekendstelling van die ontluikende talent van Suid-Afrika se indrukwekkende jong musici. Die bekende dirigent Richard Cock stel die gehoor bekend aan twee jong kunstenaars van die Universiteit van Kaapstad, Pieter Joubert (viool) en Ashlin Grobbelaar (tjello).
Hulle speel Tartini se uitdagende “Devil’s Trill Sonata” vir viool en orkes, ’n tjello concerto deur CPE Bach en ’n dubbel-concerto deur Vivaldi.
Die FynArts-orkes sal hierdie werke aanvul met die beroemde “Fantasia on Greensleeves” van Vaughan Williams en ’n vroeë simfonie van Mozart.
Dit kom alles Vrydagaand 9 Junie om 18:30 in die NG kerk, Hermanus, aan die beurt.
Die tien jong tenore bekend as die Mzansi-tenore is terug in Hermanus om die gehoor met hul charisma, energie en talent te trakteer. Die program sal befaamde arias en Suid-Afrikaanse gunstelinge insluit, sowel as treffers wat beroemd gemaak is deur Enrico Caruso, soos “Santa Lucia”, “Granada”, “Ave Maria” en ’n huldeblyk aan Caruso deur Lucio Dalla, ter viering van die 150ste herdenking van die groot kunstenaar se geboortejaar – dit alles op Saterdag 10 Junie om 18:30 in die NG kerk, Onrus.
Die Universiteit van Kaapstad (UK) se simfoniese blaasensemble sluit vanjaar se fees af. Die dirigent Brandon Phillips is aan die begin van die jaar aangestel as blaas- en ensembles-lektor by die UK. As voormalige artistieke direkteur en dirigent van die Kaapse filharmoniese orkes het Brandon die Wes-Kaapse regering se toekenning vir uitstaande prestasies deur die jeug ontvang. Dit is Sondag 18 Junie om 18:30 in die NG kerk, Onrus, aan die beurt.
Vanjaar se fees bied feesgangers ook die geleentheid om van nader kennis te maak met verskeie ikone soos die ontvanger van die 2023-FynArts Erfenistoekenning, Pieter-Dirk Uys. Christopher Hope sal die prys oorhandig en met Uys in gesprek wees – Sondag 11 Junie om 11:00 in die munisipale ouditorium.
Daardie aand sal Uys op die verhoog wees met sy nuwe eenman-toneelstuk, Sell-by Date. Soos van hierdie veelsydige kunstenaar verwag kan word, sal hy ook die rolle van allerlei aktuele en politieke figure vertolk. ’n Pieter-Dirk Uys-vertoning is altyd ’n hoogtepunt – Sondag 11 Junie om 18:30 in die NG kerk, Onrus.
. Besoek hermanusfynarts.co.za vir die program. Kaartjies kan via die webtuiste bespreek word, of by Webtickets, Pick n Pay, die Hermanus-toerismekantoor of die FynArts-galery in Hermanus. Die programboekie is by verskeie geselekteerde afsetpunte in Kaapstad, Hermanus en die Wynlande beskikbaar. . Vir navrae, skakel 060 957 5371.




