Hoewel die wyndruifoes vanjaar kleiner is as in 2022, word topgehalte wynprodukte van die 2023-seisoen verwag.


Wynliefhebbers van oor die hele wêreld heen kan na voortreflike wyne uitsien ná ’n heelwat koeler en kleiner 2023-wyndruifseisoen in Suid-Afrika, lui die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag vir 2023.

Die 2023-wyndruifoes word volgens die nuutste oesberaming deur die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels) van 12 Mei 2023 op 1 180 093 ton beraam. Dit is 14,2% kleiner as die 2022-oes.

“In vergelyking met ander seisoene, stem die 2023-oes baie ooreen met vorige koeler seisoene, soos 2014, 2015, 2018, 2019 en 2021,” sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryfliggaam Vinpro. “Dit vergelyk veral met die kombinasie van die koue en natter toestande van 2014 en 2019. Wat volume betref, kan 2023 een van die kleinste oeste in meer as ’n dekade wees.”

2022-’23-groeiseisoen

Wintertemperature was meestal warmer oor al die wynproduserende streke en die reënval was noemenswaardig minder, met die uitsondering van die Noord-Kaap (tradisioneel ’n somerreënvalgebied). Gemiddelde koue-eenhede en minder sneeuneerslae as die vorige seisoen het op bergpieke voorgekom. Dit was egter steeds genoeg om aan wingerde se kouebehoeftes te voldoen.

“Die meestal warmer lente en droë grondtoestande het daartoe gelei dat fisiologiese prosesse in die wingerd vroeër aktief geraak het,” sê Schutte. “Bot het oor die algemeen sewe tot 10 dae vroeër as gewoonlik plaasgevind. Die egaligheid van bot was bevredigend, maar vir sekere kultivars soos chardonnay was die bot in party gebiede ongelyk.”

Die meeste wingerde was gedurende blomtyd steeds ietwat vroeër as gewoonlik. Verskille het in die set van kultivars voorgekom. Hierdie neiging kan toegeskryf word aan optimale omgewingstemperature vir fotosintese, met voldoende water wat tot vinnige vegetatiewe groei gelei het. Laasgenoemde kon met blom/set meeding en later kultivars soos cabernet sauvignon was in sekere streke ligter geset.

’n Noemenswaardige verandering in die seisoen het in die tweede week van Desember plaasgevind. Harde reënbuie het groot verligting tot die meestal warm en droë seisoen gebring. Hierdie welkome reën het druk op besproeiingskedulering verlig, aangesien grondwatervlakke laer as gewoonlik was. Dit het ook druk verlig omdat produsente weens beurtkrag nie hul besproeiingskedulering behoorlik kon toepas nie. Saam met die reën het sporadiese en beperkte haelskade in Paarl, Worcester en Robertson voorgekom. Swamsiektedruk, veral van witroes en donsskimmel, is ook deur die nat toestande verhoog en produsente moes spuitprogramme daarvolgens aanpas. Skade is ook aan paaie en ander infrastruktuur veroorsaak, en dit moes herstel word.

Deurslaan het dieselfde patroon as bot en set gevolg en was vroeër as die vorige seisoen. Hierdie vroeër neiging het die moontlikheid van ’n vroeër oes ingelei. Koeler toestande het egter rypwording vertraag en die meeste wingerde het, soos gewoonlik, vroeg in Februarie begin pars. Kundiges was op hierdie tydstip beïndruk deur druifontledings wat lae pH-vlakke en hoë organiese sure by ideale suikervlakke getoon het. Kleiner korrels, gedryf deur die droë toestande gedurende die selverdelings- en vergrotingstydperk, het druifgehalte bevoordeel en puik geur- sowel as kleurprofiele is waargeneem.

Die bo-gemiddelde reënval aan die einde van Februarie en in Maart het hierdie parsseisoen verdere uitdagings gebring. Weldeurdagte parsbesluite vir optimale druifgehalte en wynbereidingsmetodes vir die produksie van hoogstaande gehaltewyne was van kardinale belang. Wingerde wat optimaal bestuur is, en produsente wat vinnige aanpassings in bestuurspraktyke gedurende hierdie uitdagende omstandighede aangebring het, het bo verwagting goeie gehalte verhaal.

Die netto afname in die skatting word hoofsaaklik aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap, Olifantsrivier en Swartland toegeskryf. Verder het hoë siektedruk, veral witroes-infeksies en botrytis in die Noord-Kaap, Olifantsrivier, Swartland, Paarl, Stellenbosch, Kaapse suidkus en Kaapstad veroorsaak en ook ’n negatiewe impak op die oesgrootte gehad. Hittepieke in Desember en Januarie het veral in die Swartland, Worcester en Breedekloof sonbrand veroorsaak. Oor al die streke, veral die intensiewe besproeiingsgebiede, het die gebrek aan elektrisiteit om besproeiingspompe te laat werk, ’n negatiewe impak op die oesgrootte gehad.

Uitstekende gehalte wyn

Die 2022-’23-seisoen sal onthou word vir die droë en warmer winter, oor die algemeen goeie groeitoestande gedurende die vegetatiewe groeifase, goeie reën kort voor deurslaan, wat gehalte bevoordeel het, en ’n koel en nat rypwordingsperiode wat druiwe kans gegee het om teen ’n stadiger tempo optimaal ryp te word.

“Wynliefhebbers kan uitsien na wyn van hoogstaande gehalte uit hierdie seisoen,” sê Schutte. “Kleiner korrels weens die droë toestande gedurende die selverdelings- en vergrotingsperiode het druifgehalte bevoordeel om uitstekende geur- en kleurprofiele te lewer. Wingerdboukundiges en wynmakers is veral opgewonde oor voortreflike kleurontginning, lae pH-vlakke en hoë natuurlike sure in gevalle waar wingerde doeltreffend bestuur is, wat alles dui op uitsonderlike gehalte wyne.”

Die 2023-wynoes – insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn – sal na raming 917,2 miljoen liter beloop, teen ’n verhaling van 777 liter per ton druiwe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article