Die groot gewag is verby – die bekroonde Suid-Afrikaanse Kaasfees keer vanjaar terug na Stellenbosch met nuwe datums en nuwe eienaars.
Die Sandringham-landgoed sal gasheer speel vir hierdie buitelug- kulinêre geleentheid oor die Erfenisdag-langnaweek van Vrydag 22 tot Maandag 25 September. Die nuwe feeseienaars, ’n konsortium private beleggers en die DGTL Marketing Group, het die gewilde fees herontwerp om ’n vier dag lange viering rondom kaas, wyn en vermaak vir die hele gesin te skep.
Die SA Kaasfees, wat bekend is as Suid-Afrika se enigste kaas-gefokusde geleentheid, is reeds sedert 2002 as ’n tradisie in die Kaapse Wynland gevestig.
Die SA Kaasfees sal Vrydag 22 September met besigheid-tot-besigheid- (B2B) gefokusde sessies begin om handel tussen uitstallers en kopers van groot kleinhandelwinkels aan te moedig. Die fees open dan amptelik met ’n musiekfees op die Vrydagaand. Oor die langnaweek van Saterdag 23 tot Maandag 25 September sal meer as 150 uitstallers die publiek verwelkom met net die beste kaas-aanbiedinge, asook ’n veelsydige keuse van ander kos en ’n verskeidenheid wyn- en boetiekbier-handelsmerke.
Gewilde plaaslike kunstenaars sal musiek maak, terwyl topklas-kindervermaak en karnaval-styl pretpark-aktiwiteite die hele gesin sal vermaak.
Een van die nuwe toevoegings tot die SA Kaasfees is die gasvryheidsopsies wat aan vennote en borge beskikbaar gestel word. Private of gedeelde gasvryheidsuites met toegewyde fasiliteite en unieke ervarings sal ingevolge die behoeftes van die borge aangepas word.
Jacques Fourie, wat die nuwe eienaars verteenwoordig, sê hulle is verheug om die 2023-geleentheid te bevestig en is opgewonde om saam met alle uitstallers en vennote te werk om die voortgesette sukses van hierdie belangrike gebeurtenis op die Wes-Kaapse geleentheidskalender te verseker.
Volgens Fourie het die nuwe eienaars ook planne om die SA Kaasfees in 2024 na Johannesburg en KwaZulu-Natal te bring, wat gewis die waarde vir bestaande vennote en uitstallers sal verhoog.
“Die SA Kaasfees is ’n merkwaardige ervaring vir kosliefhebbers en fynproewers,” sê Fourie. “Met ’n verskeidenheid kulinêre uitstallers, plaaslike wyne, boetiekbiere, jenewer, musiekkonserte en vermaaklike vertonings deur koskenners, bied hierdie fees iets vir almal. Kaartjies is van Junie af te koop en beperk tot 10 000 besoekers per dag.




