’n Ayrshire Mozzarella-kaas, wat eksklusief vir Woolworths deur RFG Foods in Simondium gemaak word, is as die Suiwelproduk van die Jaar gekroon tydens die gesogte Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings verlede Donderdagaand. Vanjaar se geleentheid was ’n viering van ’n merkwaardige mylpaal, die 190ste aanbieding van die SA Suiwelkampioenskappe, die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika.

Die wenproduk, Woolworths se Ayrshire Mozzarella, was een van 929 suiwelprodukte van 71 vervaardigers wat deur ’n span van 80 beoordelaars gemeet is. Uit die groot aantal inskrywings is 106 produkte as SA Kampioene aangewys, wat as die wenners in elke kampioenskapsklas uitgestaan het. Vanjaar is 23 produkte met die Qualité-merk van uitnemendheid vereer.

“Dit is die droom van elke suiwelvervaardiger om ’n Produk van die Jaar-toekenning in ’n kompetisie van hierdie aard los te slaan,” sê die suiwelkenner en hoofbeoordelaar Alan Fourie. “Die 600 g Woolworths Ayrshire Mozzarella is ’n uitsonderlike pizza-mozzarella wat hierdie toekenning waardig is. Dit is ’n ferm en gladde kaas, met ’n effens romerige voorkoms, wat maklik rasper en perfek smelt. Die kaas se romerige, sagte en gekaramelliseerde geur is besonders.”

Robert Sudell, bedryfsbestuurder van RFG Foods, sê hulle span is verheug om vir hierdie vlagskipproduk vereer te word. “Mozzarella vorm al vir langer as 25 jaar die kerngrondslag van RFG Foods,” sê Sudell. “Ons klein boetiekkaasspan, onder leiding van die kaasmaker Kerwick Boonzaaier, is ware kundiges. Hulle sny kaas met die hand as deel van ’n proses wat ondersteun word deur Italiaanse bestanddele en toerusting om mozzarella te maak wat gelykstaande aan die beste ter wêreld is.”

190 jaar: ’n Erfenis van uitnemendheid

Die suiwelbedryf is reeds sedert Agri-Expo se ontstaan as Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap in 1831 ’n belangrike fokusarea, volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo. “Ons is bevoorreg om sedert 1834 die gasheer van die SA Suiwelkampioenskappe te wees,” sê Milford. “Dit is egter belangrik om te ag op die doeltreffende samewerking binne die suiwelbedryf in Suid-Afrika. Ons waardeer die insette en leiding van bedryfsleiers wat ons help om ’n hoë standaard te handhaaf en om deurlopend by die behoeftes van die bedryf aan te pas,” sê Milford.

Vir die volledige uitslae, besoek https://cheesesa.co.za/ of #SADairyAwards of @AgriExpo1

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article