Die hoof van die Weskus-distriksmunisipaliteit se Rampbestuursentrum, Franquin Petersen, het onlangs ’n splinternuwe voertuig vir die sentrum in Moorreesburg in ontvangs geneem. Die voertuig is die uitvloeisel van ’n vennootskap tussen die Weskus-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse Regering, die departement van polisieoorsig en gemeenskapsveiligheid wat poog om gemeenskapsveiligheid in die streek te bevorder.
Die voertuig sal gebruik word vir intervensies wat lei tot ’n risikovermydingskultuur en bydra tot rampbestuur in die gebied. Die vennootskap tussen Weskus-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse Regering het ook radio-infrastruktuur aan munisipaliteite (Bergrivier, Swartland, Saldanhabaai, Cederberg en Matzikama) verskaf. WDM se Rampbestuursentrum het ook ’n geïntegreerde, webgebaseerde program verkry wat elke plaaslike munisipaliteit in staat sal stel om sy veiligheidsdienste aan gemeenskappe te verbeter.
Petersen het die Wes-Kaapse Regering vir hul bydrae bedank. “Elke hulpbron help ons om veiliger gemeenskappe te skep en ons vra ons gemeenskappe om inisiatiewe te ondersteun, maar meestal om uit te reik en saam te werk om ons Weskus veilig te hou,” het Petersen gesê.
Volgens die uitvoerende burgemeester van Weskus-distriksmunisipaliteit, Boffie Strydom, is die munisipaliteit se gemeenskaps- en landelike veiligheidsplan daarop gefokus om veiliger en meer volhoubare gemeenskappe te vestig. “Ons besef dat veiliger gemeenskappe van kritieke belang is vir ekonomiese groei en maatskaplike welstand en daarom werk ons saam met verskeie rolspelers om ons doelwitte te bereik. Ons kan dit beslis nie alleen doen nie en vennootskappe is vir ons baie belangrik,” het Strydom gesê.





