Muskadel SA se voorsitter, Henri Swiegers, en die Muskadel SA pryse vir 2023 se borg, Marlee Malan (Vinochem) saam met die medaljewenners van die Robertson-wynvallei: Agter van links is Fred Viljoen (Viljoensdrift), Raymond Kirby (Mont Blois), Philip Viljoen (Bon Courage) en Hermias Vollgraaff (Montagu Wines).


Die Muskadel SA-toekennings vier sy terugkeer ná drie jaar met vier platinum-wenners én ’n nuwe borg.

Hierdie goeie nuus is tydens die 18de Muskadel SA-prysuitdeling, geborg deur Vinochem, wat Woensdag 24 Mei by die Noop-restaurant in die Paarl aangebied is, aangekondig.

Die Montagu-wynkelder, die Mont Blois-wynlandgoed, die Nuy-wynkelder en Viljoensdrift Fine Wines se muskadel van ouer oesjare is vanjaar uitgesonder en met die hoogste eer, ’n platinum-prys, vereer. Terselftertyd is vyf goue sertifikate aan drie produsente wie se jonger oesjaar-muskadel presteer het, oorhandig – twee goue pryse elk aan die Bon Courage-landgoed en Du Toitskloof-wyne, asook een aan die Waboomsrivier-wynkelder.

Platinum-uitblinkers

Drie produsente het die Robertson-wynvallei se naam hoog gehou met drie wyne wat met ’n platinum-prys beloon is: . Die Mont Blois-wynlandgoed se Mont Blois Pomphuis White Muscadel 2017, wat van ’n 32 jaar oue wingerd kom;. Die Montagu-wynkelder se Muscat de Frontignan Single Vineyard (Red) 2016 in sy kenmerkende, stylvolle baadjie, en. Viljoensdrift Fine Wines se Moscato Blanco 2016 wit muskadel, wat van ’n 60 jaar oue wingerd kom.

Die Nuy-wynkelder uit die Nuyvallei naby Worcester het presteer deur ‘n platinum-prys vir sy Barbieri Idro Rooi Muskadel 2015, ’n gefortifiseerde Muscat de Frontignan wat vir vyf jaar in eikehoutvate verouder is, los te slaan.

Goue medaljes

Jong muskaatwyne het vanjaar goed vertoon teenoor die ouer garde met vyf goue medaljes, wat aan nuwer oesjare toegeken is.

Die Bon Courage-landgoed, nóg ‘n presteerder uit die Robertson-wynvallei, is met twee goue medaljes bekroon vir sy Wit Muskadel 2022 én Rooi Muskadel 2022.

Die Breedekloofvallei het sy reputasie as muskadel-kontrei gestand gedoen deur drie goue medaljes in te oes: . Du Toitskloof-wyne – ’n volgehoue presteerder oor baie jare – het twee goue medaljes verwerf vir sy Red Muscadel 2020 asook sy Hanepoot Jerepigo 2021.. Die Waboomsrivier-wynkelder, geleë op die R43 tussen Worcester en Ceres, het goud vir sy wit Wagenboom Muskadel 2021 gewen.

Beoordelingsproses

Vanjaar se beoordelaarspaneel onder leiding van die Kaapse wynmeester Bennie Howard as voorsitter, het bestaan uit die wynkonsultant Altus le Roux, die Kaapse wynmeester Raymond Noppé, die wynkundige Jaco Potgieter van Douglas Green Wines en Melissa Rhode, bestuurder van wynaankope by Heineken Beverages.

Die wyne word blind geproe en volgens ’n welbeproefde puntestelsel beoordeel. Die uniekheid van die verpakking speel ook ’n rol in die puntetoekenning – dit kan selfs die verskil tussen ’n goue of platinum-prys beteken. Muskadel-liefhebbers kan die wenwyne in winkels uitken aan die Muskadel SA-plakker op die bottel.

Uit die Muskadel SA-kantoor

“Ons is dankbaar om die kompetisie weer aan te bied danksy die bedryf wat die pryse na waarde ag en die voortbestaan daarvan verseker,” sê Henri Swiegers, die voorsitter van Muskadel SA.

“Muskadel se oesgetalle neem af, maar ons hoop dit sal weer toeneem wanneer die ekonomie verbeter en produsente weer meer muskadel kan plant. Die feit dat ons ouer én nuwer oesjare goed vertoon het, is verblydend; dit skep ’n goeie platform vir die toekoms.

“Die gehalte van Suid-Afrika se muskadel bly uitstekend en ons was baie tevrede met die inskrywings wat ons vanjaar ontvang het,” meen Swiegers.

Borg

Vinochem het vanjaar as borg aan boord gekom om in die bedryf terug te ploeg en hul kliënte te ondersteun.

“Suid-Afrikaanse muskadel is van ’n baie hoë gehalte en het die potensiaal om ’n groter mark te bereik,” sê Marlee Malan van Vinochem. “Baie geluk aan al die produsente met hul uitstekende prestasies.”. Gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #MuskadelSAAwards – Twitter & Instagram

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article