Oom Mossie (71) is Vrydagaand oorlede nadat hy in Malmesbury se hoofstraat, Voortrekkerweg, deur ’n motorfiets getref is.

Credit: SYSTEM

Hy was op pad lughawe toe om familielede op te laai toe hy die oproep kry dat sy pa in ’n ongeluk betrokke was.

Só vertel Jacques Mostert (41) oor die tragiese voorval Vrydagaand (2 Junie) waarin sy pa Mossie Mostert (71), erg beseer is toe hy ongeveer 18:30 deur ’n motorfiets getref is.

Mostert was besig om in Malmesbury se hoofstraat, Voortrekkerweg, van die middelmannetjie af na sy motor te stap, toe die ongeluk in reënweer naby Mr Price gebeur het. Hy het enkele ure later in die hospitaal gesterf. Die oorsaak van sy dood moet nog amptelik bepaal word.

Ons sit langs die tafel in Oom Mossie van Mossie-begrafnisdienste se kantoor – die einste ronde tafel wat hy 12 jaar gelede met een doel gekoop het: rondom hierdie tafel wou Mossie hartseer familielede help en hul flenter gemoedere ondersteun. Hier moes planne gemaak word en berading gedoen word, want saam met sy werk in die slegste tye in mense se lewe, wou Mossie altyd dienste lewer wat ’n verskil maak.

“Hier’s baie aande tot laat in hierdie kantoor gewerk,” sê Jacques.

Hy vertel van sy pa se lewe voordat hy Malmesbury toe verhuis het; van Mossie se kwalifikasies as passer en draaier, ketelmaker, sweiser, opleiding in elektrisiteit en houtbewerking. “My pa het ná my ma se kankerdood in 1999 van Pretoria af Boland toe verhuis vir ’n werk by Doves in die Paarl. Daarna het hy afloswerk in verskeie dorpe vir Doves gedoen totdat hy in 2003 die Doves-kantoor in Moorreesburg bestuur het. Sedert 2008 het hy die Malmesbury-kantoor bestuur, maar vroeg in 2012 moes hy volgens Doves se ouderdomsvereistes aftree.”

Op 60 het Mossie geglo hy het genoeg oemf in hom om nog 10 tot 15 jaar te werk, daarom het hy Mossie-begrafnisdienste in Augustus 2012 geopen. Dudeth Beukes, hul getroue helper, werk sedert die opening daar. “Hy was my leermeester; alles wat ek weet, het ek by hom geleer,” vertel Dudeth hartseer. “Mossie het ’n goeie hart gehad.”

Jacques het in Februarie 2014 saam met sy pa begin werk. “My pa was ’n stil, ferm mens. Sy leefwyse het gewys hy volg Jesus. En, soos my broer Nico Vrydagaand gesê het, Pa het altyd geglimlag, of dit goed of sleg gaan.

“Pa se doopnaam was Petrus – Rots. Weet jy hoeveel boodskappe kry ek sedert Vrydagaand waarin mense vertel hy was vir hulle ’n rots in hartseer tye? Mense vertel as dit nie vir sy hulp was nie, sou hulle nooit deur die moeilike tye kon kom nie.”

Volgens Jacques het hulle Vrydagmiddag laat nog gewerk aan begrafnisbriewe vir Saterdag. Daarna sou sy pa bank en huis toe gaan. Hulle het nog grappies gemaak met die groetslag. Jacques moes lughawe toe ry om familielede op te laai. “Ek was naby die lughawe toe ek die oproep van die ongeluk kry; ek moes net daar omdraai.”

Ten spyte van Mossie se sterfte, moes Jacques Saterdag se begrafnisdiens behartig en Saterdagaand ’n oorledene se liggaam verwyder.

“Pa sou dit nie anders wou hê nie. Hy het vas geglo ons kan nooit toelaat dat ons persoonlike probleme by goeie dienslewering inmeng nie.”

Mossie laat sy vrou, Marietjie, twee seuns asook twee kleinkinders, Caleb en Melzaan, agter.

Mossie se diens word beplan vir Maandag (12 Junie) om 15:00. Finale reëlings oor die plek moet nog getref word.. Volgens sers. Henry du Randt van die Malmesbury-polisie was die motorfietsryer te getraumatiseerd om dadelik ’n verklaring af te lê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article