Sersant Sarah Julies, woordvoerder van die Bonnievale-polisiestasie tydens een van haar besoeke aan skole om kinders in te lig oor Kinderbeskermingsweek. Foto:

Credit: SYSTEM

Kinderbeskermingsweek word van 28 Mei tot 4 Junie waargeneem.

Die tema vir hierdie jaar se Kinderbeskermingsweek was “Laat ons kinders beskerm tydens Covid-19 en verder”. Hierdie week word jaarliks gedenk en deur die departement van maatskaplike ontwikkeling aangevoer.

“Nasionale Kinderbeskermingsweek word jaarliks in die land herdenk om bewustheid te kweek van die regte van kinders, soos verwoord in die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en die Kinderwet (Wet 38 van 2005). Die veldtog word gelei deur die departement van maatskaplike ontwikkeling in vennootskap met sleutel-staatsdepartemente en burgerlike organisasies wat kinderbeskermings­dienste lewer. Die regering doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om Kinderbeskermingsweek te ondersteun deur te verseker dat die mees kwesbares in ons samelewing nie misbruik word nie. Dit is in ons hande om die siklus van verwaarlosing, mishandeling, geweld en uitbuiting van kinders te stop,” lui ’n persverklaring op die Suid-Afrikaanse regering se webtuiste.

Die onderskeie plaaslike polisiekantore het ook aan die week deelgeneem deur verskillende skole te besoek en met die kinders oor hul regte te praat en hulle daarvan bewus te maak.

Lede van die Bonnievale- en Robertson-polisie het op hul beurt skole in hul dorpe besoek om bewusmaking te skep van kinderbeskerming en kinderregte.

Verder lui die regering se persverklaring soos volg: “Die regering doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om Kinderbeskermingsweek te ondersteun.

“Kinders in Suid-Afrika leef in ’n samelewing met ’n Grondwet wat die hoogste agting het vir hul regte en vir die gelykheid en waardigheid van almal.

“Om kinders teen geweld, uitbuiting en mishandeling te beskerm, is nie net ’n basiese reg nie, maar ook ’n verpligting wat duidelik in Artikel 28 van die Suid-Afrikaanse Grondwet uiteengesit word.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ’n 24-uur-inbelsentrum vir slagoffers van geslagsgebasseerde geweld: . Die tolvrye nommer om te skakel is 0800 428 428 (0800 GBV GBV) om met ’n maatskaplike werker te praat vir bystand en berading.. Inbellers kan ook ’n maatskaplike werker van die bevelsentrum versoek om hulle te kontak deur *120*7867# (gratis) vanaf enige selfoon te skakel.

Jy kan ook hulp kry by:
. Kinderlyn Suid-Afrika: 0800 055 555.. Kinderwelsyn Suid-Afrika: 0861 4 KIND (24453)/011 452 4110/e-pos: info@childwelfaresa.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article