Die bestuur van die Boland-rugby-unie het die afgelope naweek se gebeure by die plaaslike Alfastraat-sportterrein in Wesbank betreur waar ’n rugbyspeler met ’n mes gesteek is.
’n Speler van die Never Despair-rugbyklub is gedurende rustyd tydens ’n A-span ligawedstryd teen Porterville met ’n mes gesteek. Die unie het onmiddellik ná die voorval na die gemeenskap van Never Despair uitgereik en sy ondersteuning en hulp verleen. Die voorsitter van Never Despair, Lance Levendal, het volgens die Boland-rugby-unie se verklaring die verdagte in die voorval agternagesit en met behulp van spelers aangekeer. Volgens die verklaring is die verdagte kort daarna aan die plaaslike polisie oorhandig. Die plaaslike polisie het egter by navraag gesê met hul aankoms by die toneel het die verdagte reeds gevlug en is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die beseerde rugbyspeler is deur die ondervoorsitter van die rugbyklub, James Davids, wat ’n paramedikus is, behandel voordat hy per ambulans na die Swartland-hospitaal geneem is vir verdere behandeling.
Die beseerde is gister uit die hospitaal ontslaan.
Die voorsitters van die klubs en die betrokke wedstrydbeamptes het besluit om die wedstryd weens die omstandighede af te las.
Die skeidsregters teenwoordig is volgens bestuurslede van die klubs erg deur die tragiese gebeure getraumatiseerd. Die voorsitter van die besoekende klub van Porterville, Randall Swarts, het aan die Boland-rugby-unie bevestig die gasheerklub se veiligheidsplan is met sigbare sekuriteit toegepas.
“Die traumatiese gebeure, hoewel geïsoleerd, word in ’n ernstige lig beskou,” lui die verklaring. Die unie het verder met die klub in gesprek getree vir ’n volledige verslag om die kern van die gebeure te bepaal.
’n Klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer word deur die polisie ondersoek.



