Die Robertson-polisie het ’n 21-jarige man in verband met ’n gewapende rooftog in hegtenis geneem.

Die rooftog het Maandag 5 Junie om 06:00 plaasgevind.

“Twee verdagtes, beide met messe gewapen, het die spaza-winkel in Nerinastraat beroof. Die eienaar van die winkel en sy assistent was ten tyde van die voorval in die winkel en is van R700 kontant beroof. Die eienaar en sy assistent is met die messe gedreig en die assistent is een keer in die kop gewond,” verduidelik ’n woordvoerder van die Robertson-polisie.

Die assistent het later mediese hulp op die toneel ontvang.

Ná deeglike ondersoek het die ondersoekbeampte in die saak ’n ooggetuie opgespoor.

“Die ondersoekbeampte het met die hulp van die ooggetuie een verdagte wat by die rooftog betrokke was, in hegtenis geneem.”

Die 21-jarige verdagte het Vrydag 9 Junie in die hof verskyn. – Tamsyn Jantjies

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article