Daardie Kalahari-kind wat deesdae in Malmesbury werk, se kollegas moes hom verlede week met twee emmers droë sand lawe, want hierdie oormaat water het sy gees verdrink, hoor ek.
“Wat daar bo is, moet die een of ander tyd afkom,” verklaar ’n gesoute landbouer met verwysing na die laaste jare se droogtes.
Onwillekeurig onthou ek my ma se waarskuwingswoorde terwyl ons klompie kinders nog besig was om die kardeur toe te maak voordat ons iewers heen ry – hetsy vir ’n dag, naweek of vakansie: “Moenie oor die weer kla nie, onthou – alle weer kom van die Here af.”
Met daai ingesteldheid kla ek deesdae niks oor die veertiendaereën wat reeds vier weke lank val nie, want my ma se woorde is in my ingegraveer, al smag my hele wese nou na sonskyn.
Daar was wel ’n tyd toe Bolandse winters my baie swaar laat kry het – ek’t pas my werk gelos vir die grootmaak van ’n wintersbaba, destyds toe weggooidoeke nog nie vanselfsprekend was nie.
Ek het myself vreeslik bejammer as dit dae lank triestig was; die son parmantig wegbly. Totdat ek vriendinne ontdek het wat net so swaar kry weens Bolandse winters. Een van hulle met ’n Upington-hart; die ander ’n Pretorianer, en ekke uit die Karoo. Ons het ’n ondersteuningsnetwerk gevorm om vaalgrys dae deur te sien, en só kon ons ons sielstriestighede oorwin.
Dan bel ons mekaar, deel goue wenke uit: Raak kreatief; moenie net fokus op dit wat jy nie kan beheer nie. Dans met klipharde musiek; leer jou kinders dans; bak dat die stoom so staan; skuif jou meubels en verander jou vertrekke; kontak iemand anders wat swaarkry; gooi die inhoud van jou kaste uit en maak alles weer mooi. Hoewel ek nooit die waarde van laasgenoemde beproef het nie, het hierdie soort gesprekke gehelp.
Tot die Gauteng-vriendin een Julie met ’n sonbruin vel terugkom van haar ouers af. Terwyl die Boland verspoel, kon hulle weens andersoortige temperature swem en bergklim en tennis speel en Krugerwildtuin toe gaan.
Ek het verraai gevoel.
Nes my ma se goedbedoelde preek my ook deesdae in ’n morele dilemma laat, want al murmureer elke normale mens se gees teen hierdie vierwekereën, voel ek heeltemal te skuldig om te kla.
Nou probeer ek kliphard positief bly en niks te kla nie. Let wel – ek vra nie weer vriendinne se raad nie, want een van hulle toer hierdie week deur Namibië; die ander sowaar deur die Wildtuin (mag hulle dit geniet, hulle verdien dit!)
Ek kies eerder om dinge vir myself aangenamer te maak: Koffie met goeie geselskap, dik boeke lees, en ek begin om vele uitgestelde planne uit te voer.
Maar kaste uitgooi om met die terugpak nuwe woema te kry?
O nee, so moedeloos was ek nog nooit.





