Twee prominente wynskoue het Bonnievale Wines se Cabernet sauvignon weer eens as uitmuntend bekroon.

Iets besonders is die dubbele platinumprys wat die Bonnievale River Collection Limited Release Cabernet Sauvignon 2021 in die National Wine Challenge (NWC) losgeslaan het én daarmee onder vanjaar se top-100- Suid-Afrikaanse wyne tel.

Nie net is dit die tweede agtereenvolgende keer dat dié beperkte-oplaag Cabernet sauvignon ’n dubbele platinum by die NWC ontvang nie – die spesifieke oesjaar is ook pas met goud in die eerste Cabernet Sauvignon Challenge bekroon.

Bonnievale is die enigste presteerder uit die Robertson-streek onder dié kompetisie se 33 pryswenners.

“Dit is met groot trots dat ons hierdie jongste toekennings ontvang,” sê Marthinus Rademeyer, hoofwynmaker van Bonnievale Wines. “Dié eerbewyse beloon ons toewyding en passie vir die kultivar en bevestig weer dat ons span voortdurend daarna streef om topgehalte wyne te maak.”

Die Cabernet sauvignon-variëteit lok tradisioneel sterk wedywering as ’n wynkategorie oor die wêreld heen. Dié wyne verteenwoordig telkens die keur van kelderportefeuljes, en daarom kan prestasie in dié afdeling as ’n belangrike aanduiding van gehalte beskou word. Bonnievale bewys met hierdie nuwe eerbewyse vir Cabernet sauvignon weer eens dat wingerde in die Robertson-streek die potensiaal het om as uitmuntend gereken te word.

Bonnievale kies vir sy beperkte-oplaag- Cabernet sauvignon slegs wingerde wat konstant oor ’n tydperk goeie gehalte lewer. Hierdie wingerde word aan streng wingerdboubestuur onderwerp terwyl die druiwe gereeld getoets word om teen optimale rypheid met die hand geoes te word. ’n Tweede seleksie verseker dat nét die heel beste druiwe in hierdie wyne ingesluit word. Dit word in klein hoeveelhede gefermenteer, ondergaan ’n streng eikehout-proses tydens fermentasie en veroudering, en lê dan sowat 18 maande op hout om verder te ontwikkel.

Hierdie aandag aan detail maak toekennings ’n algemene kenmerk van die Bonnievale-portefeulje.

Die NWC bestaan reeds 13 jaar, terwyl die Cabernet-uitdaging vanjaar die eerste keer aangebied is met ’n paneel wat die bekende wynbeoordelaar en -kommentator Carrie Adams asook die sommeliers Greg Mutambe en Janine van Zyl ingesluit het. . Bonnievale Wines se wyne is landwyd beskikbaar en kan in hul aanlyn winkel bestel word by www.bonnievalewines.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article