As jy ’n groot aanhanger van gholf is, het ons goeie nuus vir jou: kykNET (DStv-kanaal 144) se nuwe reisprogram, Ysters op die landgoed, het pas (Saterdag 8 Julie) begin.
Johnny Davids en Alwyn Hollenbach neem jou met dié program saam op ’n reis na Suid-Afrika se voorste gholflandgoedere.
Hulle verken 13 eksklusiewe landgoedere, leer die inwoners ken, speel oral ’n bietjie gholf en ontmoet ’n paar ysters.
Onder die gaste is die Olimpiese swemkampioen Ryk Neethling, die Springbok-rugbyspeler Damien Willemse, Mej. Wêreld 2014, Rolene Strauss, die krieketkommentator Trevor Quirk en die voormalige Springboklosskakel Tiaan Strauss.
Hulle besoek onder meer Val de Vie in die Paarl, die Blair Atholl Equestrian-gholflandgoed in Gauteng en die De Zalze-wynlandgoed in Stellenbosch.
Alwyn sê die reeks is nie net vir gholfliefhebbers nie. “Hierdie program is vir almal. Dit het lekker humor en die verskillende bane is in ’n ongelooflike toestand en ’n lus vir die oog. Hierdie reeks het my weer laat besef hoe bevoorreg ons as Suid-Afrikaners is om in só ’n pragtige land met sulke wonderlike mense te woon,” sê hy.
Johnny stem saam en voeg by: “ ’n Mens kry ’n blik op hoe mooi ons land rêrig is en kom tot die slotsom dat ons nie ’n tree hoef terug te staan vir die res van die wêreld as dit by gholfbane en landgoedere kom nie.”
Vir Alwyn staan twee landgoedere bo die res uit: “Die eerste is Silwerstrand in Robertson. Dis ’n klein dorpie en die mense is so gaaf en gasvry. Die baan word uitstekend in stand gehou. Tweedens moet ek sê Blair Atholl; dit was weer eens die mense daar, wat dit so lekker gemaak en ons soos familie laat voel het. Die baan is uniek en gewis nie ’n maklike baan nie,” vertel hy.
Johnny sê die San Lameer-gholflandgoed in KwaZulu-Natal was vir hom ’n juweel. “Behalwe vir die feit dat dit prentjiemooi is, kry jy die gevoel dat jy op ’n subtropiese eiland is. En almal daar is 100% Afrikaans, vreeslik goedhartig, behulpsaam en vriendelik.”
Kom ervaar saam met Johnny en Alwyn luukse leefstyl, asemrowende landskappe en wêreldklasgholf.. Ysters op die landgoed het Saterdag (8 Julie) 30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.





