Lede van Moorreesburg se polisiekantoor is onlangs na ’n konferensie, aangebied deur die Lilly of the Valley-stigting, genooi waartydens verskeie onderwerpe wat vroue en kinders raak, bespreek is.
Mary-Ann Sim van die Zion-stigting, het onder meer oor mensehandel en die gevare wat dit inhou gepraat. Volgens haar moet kinders en jong mense wat gebruik word as vervoermiddels vir dwelmhandel weet daar is ’n uitweg en wel iets anders wat hulle met hul lewe kan doen. Sy het ouers aangemoedig om te weet waar hulle kinders is en wat hul doen en late is.
Sim werk daagliks met slagoffers van verkragting en is by verskeie projekte betrokke. Sy het ook die vrymoedigheid gehad om haar eie verhaal te vertel waartydens sy byna ’n slagoffer van mensehandel geword het.
AO Nicolette Visagie van Moorreesburg-polisie het ook by die geleentheid meer vertel oor die verskillende vorme van geslagsgeweld, geweld teen vroue en kinders, huisgeweld en die prosedure wat volg rakende kinderbeskerming.
Sy het ’n ernstige beroep op vroue gedoen om op te staan en die stilte oor vrouemishandeling te breek. “Rapporteer dit,” het sy beklemtoon.”
Visagie het gewaarsku dat ouers en hul kinders versigtig moet wees wanneer dit kom by die laai van foto’s op sosiale media.
Gemeenskapsveiligheid en dwelmmisbruik is ook by hierdie geleentheid op Moorreesburg bespreek.




