Klagtes oor beweerde swak vakmanskap en skade by die De Hoop-behuisingsprojek op Malmesbury het onlangs na vore gekom nadat begunstigdes glo begin kla het oor onder meer krake in die mure en deure wat swel. Die De Hoop-behuisingsprojek is ’n geïntegreerde residensiële ontwikkelingsprogram van die Wes-Kaapse departement.

Daar is 395 huise binne die eerste fase van die behuisingsprojek gebou met voltooide huise wat sedert April 2022 stuk-stuk aan begunstigdes oorhandig is.

Die eerste fase van die projek is vroeër vanjaar voltooi. ’n Verdere 10 huise is onder meer ook gedurende Augustus 2022 aan begunstigdes oorhandig.

Die VF Plus het onlangs egter in ’n verklaring gesê hulle het kort daarna klagtes begin ontvang oor strukturele skade aan die huise.

In die verklaring waar die party vir ’n ondersoek vra na die “minderjarige vakmanskap”, word vertel van krake wat in die mure en plafonne begin vorm het, deure en handvatsels wat stukkend is asook muurproppe. Wortels van bome was ook glo sigbaar in sommige van die huise. Volgens die verklaring het die projekbestuurder by ’n oorsigbesoek in Februarie vanjaar waar al die rolspelers teenwoordig was, erken dat die sand dalk nie behoorlik gesif is nie en die fondamente dalk nie diep genoeg gegrawe is nie. “Skokkend genoeg is dieselfde kontrakteur vir die volgende fase van die behuisingsprojek vir 2024 aangestel,” lui die verklaring.

Die Swartland-munisipaliteit het in reaksie daarop gesê dat alle bouspesifikasies deur die nasionale en provinsiale regering bepaal word en dat hy slegs die implementerende agent by die behuisingsprojekte is. “Die presiese spesifikasies waarvolgens behuisingsprojekte gelewer word, word nie deur die plaaslike munisipaliteit bepaal en voorgeskryf nie, maar deur die nasionale regering,” het die SM reageer.

“Hierdie spesifikasies word direk so deurgegee aan kontrakteurs wat op hierdie projekte werk. Wanneer begunstigdes die munisipaliteit nader met kwessies oor die huise, word hulle na die kontrakteurs se kantoor op die bouperseel te verwys om alle klagtes te registreer vir die aandag van die kontrakteur,” word daar verder verduidelik.

Alle behoorlike en voorgeskrewe prosesse word gevolg met die bou en oorhandiging van die huise deur die kontrakteurs en bou-inspekteurs van die munisipaliteit. Die kontrakvoorwaardes vir die projek maak ook voorsiening vir ’n tydperk van drie maande waarbinne begunstigdes alle probleme moet aanmeld by die kontrakteurs, brei die SM uit.

“Ons is bewus van klagtes oor deure wat swel, maar dit is nie ’n unieke verskynsel beperk tot die De Hoop-huise nie en kom oraloor voor in die winter as gevolg van die nat winterstoestande. Met enige nuutgeboude konstruksie is daar ook ’n vestigingstydperk vir die fondasie waar daar krake in mure kan ontstaan. Dit hou verband met wisseling van onder meer temperature en voginhoud. Dit kom voor in alle nuwe konstruksie. Die kwessies word dan ook deur die kontrakteurs aangespreek.”

Enige ernstiger defekte word aangespreek en gedek deur die Nasionale Huisbouers-registrasieraad. Volgens die munisipaliteit is die bewering dat dieselfde kontrakteur vir die tweede fase aangestel is, onwaar en kwaadwillig. “Daar is nog nie ’n kontrakteur vir die volgende fase van die De Hoop-projek aangestel nie. Dit moet weer uitgaan op tender. ’n Tender word tans geadverteer vir die installering van dienste vir die volgende fase, maar die tender is nog nie toegeken nie en alle wetlike prosesse sal gevolg word om die toekenning te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article