Bekommerde inwoners, ouers en ook kleuterskooleienaars het onlangs hul misnoeë begin uitspreek oor kinders wat daagliks by skole afgelaai word sonder om basiese veiligheidsreëls toe te pas.
’n Inwoner wat anoniem wil bly het onder meer gesê dat dit glo ’n “in ding” raak om ’n kind op die skoot van die bestuurder te laat ry.
Kleuterskooleienaars in die omgewing van Malmesbury vertel hoe angswekkend dit soms is om te sien hoe kinders na en van hul persele vervoer word.
Russel Meiring, woordvoerder vir die nooddiens ER24, vertel dit is altyd so hartseer om by ongelukstonele te kom waarin kinders betrokke was. “Veral wanneer die ongeluk voorkom kon word deur die dra van ’n veiligheidsgordel of die gebruik van ’n gepaste karstoeltjie,” verduidelik hy. Kinders se beserings weens ’n motorongeluk verskil, maar ernstige kop-, bors- en nekbeserings kom die meeste voor wanneer ’n kind op die bestuurder se skoot sit of nie vasgegordel is nie.
“Ongelukkig is die meeste van hierdie beserings noodlottig van aard,” brei hy uit. Meiring verduidelik verder en sê die kind se kop tref die voorruit of die stuurwiel wanneer hulle voor sit of nie vasgegordel is nie. “Wanneer die kind op die bestuurder se skoot gesit het, druk die volwassene gewoonlik die kind noodlottig teen die stuurwiel vas.”
Meiring verduidelik verder dat ’n aantal ernstige besering deur ’n lugsak wat geaktiveer word, veroorsaak kan word. “’n Kind sal gedurende ’n botsing vorentoe met krag teen die lugsak gegooi word. Die lugsak sal die kind tref en hom of haar met mening terug forseer. Die mees algemene besering sal ernstige bors-, nek en gesigbeserings wees.”
Botsings met voetgangers in gebiede waar kinders is, soos parkies en skole, kom baie voor, vertel Meiring verder. “Kinders is nie bewus van hul omgewing nie en kyk nie vir aankomende verkeer voor die straat oorgesteek word nie. Of dit is bestuurders wat nie oplet nie of bestuurders wat jaag in ’n omgewing waar kinders voorkom.”
Volgens hom sluit die meeste beserings by kinders wat deur ’n ligte voertuig getref word, skedelfrakture, frakture aan die bekken been, die bors en die nek in. “Been- en armfrakture kom meestal voor. Baie van die ongelukke kan noodlottig van aard wees,” bevestig hy.
’n Karstoeltjie vir kinders onder drie jaar moet verkieslik na die kattebak gedraai wees, beveel ER24 aan.
’n Karstoeltjie wat na voor gedraai is, is gepas vir ouderdomme tussen een en sewejariges, terwyl vier tot sewejarige kinders ook ’n sitstoeltjie kan gebruik.
Kinders moet vanaf agtjarige ouderdom ’n veiligheidsgordel dra.
Die volgende vereistes word volgens die Swartland-munisipaliteit se verkeersafdeling deur die padverkeerswet bepaal: Alle volwassenes moet ’n veiligheidsgordel aanhê indien ’n voertuig daarmee toegerus is. ’n Bestuurder moet toesien dat kinders tussen drie en 14-jaar oud op ’n sitplek met ’n veiligheidsgordel (indien daarmee toegerus) is en vas gegordel wees. Die drywer is verantwoordelik om toe te sien dat alle persone in die voertuig hul veiligheidsgordel aan het.
Die regulasies bepaal ook voorts dat die bestuurder moet toesien dat geen persoon ’n posisie inneem wat verhoed dat hy volle beheer oor die voertuig of kontroles het nie of volle sig oor die padoppervlak en die verkeer voor hom het nie.
“Hierdie oortredings is strafbaar met ’n boete soos vooraf deur die landdros bepaal,” voeg die SM by.
Arbeidsterapeut Chantel Griesel, verbonde aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê kinders kan tegnies tot 12-jarige ouderdom ’n sitstoeltjie gebruik.
In ’n verklaring uitgereik deur die Automobiel Assosiasie (AA), bepaal Regulasie 213 tot die Padverkeerswet dat dit van 1 Mei 2015 ongeldig is vir ’n kind tot en met die ouderdom van drie jaar om in ’n motor op iemand se skoot te sit of om in die motor te staan of op enige manier in die motor te sit sonder dat hy / sy beveilig is. Die verklaring bevestig verder dat dit wetlik verpligtend is om ’n karstoeltjie te gebruik wanneer ’n kind onder die ouderdom van drie jaar is.
“Veiligheid in die motor raak dus deel van ’n kind se grootword- gewoontes, wanneer hierdie reëls, naamlik sitplekgordels / karstoeltjies konsekwent toegepas word,” sê Griesel wat by die Weskus-onderwysdistrik se gespesialiseerde opvoedkundige ondersteuning betrokke is. “Padveiligheid- en voetgangerreëls kan vir kinders geleer word die oomblik wanneer hulle hierdie konsepte begin verstaan en die regte woordeskat opgebou het.”
Hulle kan nog nie noodwendig veiligheid evalueer, aanvoel of verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie, maar kan wel daaraan blootgestel en daarvan geleer word,” verduidelik sy. Volgens haar is kinders vanaf ses jaar kognitief in staat om die gevolge en die belangrikheid van padveiligheid te verstaan. “Die leerproses en kind se veiligheid bly altyd die ouer, versorger of bestuurder se verantwoordelikheid.”
Griesel stel spel voor wanneer ouers padveiligheidsreëls vir hul kinders wil leer. “Peuters en kleuters leer die beste deur middel van spel. Pak eetkamerstoele agtermekaar sodat dit soos die binnekant van ’n voertuig lyk en speel verskeie scenarios uit om kinders die belangrikheid van veiligheid binne en buite die motor te leer,” verduidelik sy.



