Twee mans is onlangs weens seksmisdade gevonnis.

’n 58-jarige man is in Vrydag 28 Julie in die Robertson-hof gevonnis weens die seksuele aanranding van twee slagoffers, van wie een minderjarig was.

Die eerste voorval het op 18 Oktober 2022 plaasgevind.

“Die beskuldigde het ’n 20-jarige vrou onwettig en opsetlik seksueel geskend deur haar vas te gryp en sonder haar toestemming aan haar borste te vat.”

In die tweede voorval het die man ’n minderjarige meisie gedreig.

“Hy het onwettig en opsetlik ’n daad van seksuele intimidasie gepleeg deur ’n dreigement uit te spreek of oor te dra aan die klaagster, wat 12 jaar oud was. Dit het haar oortuig sy is in gevaar weens seksuele misdrywe of seksuele aanranding. Die beskuldigde het aan haar gesê sy is nie ’n maagd nie en hy sal met haar seks hê. Die beskuldigde is dus by skuldigbevinding aanspreeklik gehou vir die straf waartoe iemand wat aan die werklike pleeg van ’n seksuele misdryf aanspreeklik gehou sou wees, skuldig bevind.”

Die man het skuld op al twee aanklagte beken en is tot drie jaar tronkstraf gevonnis, wat vir drie jaar opgeskort op voorwaarde dat hy nie aan soortgelyke misdrywe skuldig bevind word nie.

Die beskuldigde woon in Kloofstraat en het ten tyde van die voorvalle ’n huiswinkeltjie bedryf, waar die voorvalle plaasgevind het. Sy naam is in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem.

In ’n afsonderlike saak is ’n 17-jarige man weens verkragting, wat hy in McGregor gepleeg het toe hy 14 jaar oud was, tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Sy slagoffer was destyds net nege jaar oud.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article