Adriaan Hanse (40) van Moorreesburg, wat na bewering die bestuurder van die Ford Bantam-bakkie was waarin vyf kinders op 9 Julie op die N1-snelweg dood is, het die afgelope Vrydag weer in die Bluedowns-landdroshof in Brackenfell verskyn. Hanse, die pa van Abigail (7) en Sarissa Frasenburg (15) wat ook in die ongeluk dood is, het op 12 Julie op vyf aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur in die hof verskyn.

Hy is op borgtog vrygelaat onder voorwaarde dat hy nie die saak met enige getuies sal bespreek nie, het Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê. Dit volg op sy inhegtenisneming ná die noodlottige ongeluk naby Brackenfell, wat die lewe van vyf mense geëis het. Elvina Lesch (17) van Moorreesburg, een van die 11 insittendes, het ook nie die ongeluk oorleef nie.

Die aangeklaagde, sy vrou en ander insittendes was van Ceres na Kaapstad onderweg toe die voorval plaasgevind het. Hanse het Vrydag 18 Augustus weer in die hof verskyn nadat sy saak vir verdere ondersoek uitgestel is. Die NVG kon egter nie voor druktyd reageer op navraag rakende Hanse se onlangse hofverskyning nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article