Die Swartland se 2023 jongwyne skitter ten spyte van uitdagings. Tien kelders afkomstig uit beide die Darling en Swartland Wyn van Oorsprong-gebiede het vanjaar deelgeneem aan die Jongwynskoukompetisie wat ’n totaal van 117 wyninskrywings gesien het.
Die inskrywings het beïndruk met 11 goue, 23 silwer- en 21 bronstoekennings. Daarbenewens is ’n groottotaal van 32 klaswenners aangewys vanuit die goue en silwertoekennings.
Volgens Pieter-Niel Rossouw, voorsitter van die Swartland Jongwynskou, is hy dankbaar vir elkeen wat ingeskryf het. “Sonder jul inskrywings is die kompetisie nie moontlik nie.” het hy gesê. Hy beskou dit as ’n geleentheid waartydens die kelders kan sien wat werk en wat nie werk nie en dan daarop kan verbeter.
Hierdie besonderse wyne staan as toonbeeld in hul kategorieë en het in aanmerking gekom vir die onderskeie streekstrofeë, buiten die Groot Kampioen-trofee waarvoor slegs wyne met goue toekennings verkiesbaar gestel is. Die streekskompetisie word deur die Swartland Wyn- en Olyfroete gekoördineer en vorm deel van die plaaslike aanloop tot die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou, wie se wenners vanjaar 26 Augustus aangekondig was.
Die Swartland Jongwynskou gee ’n terugblik op die 2023-oes wat verby is, maar erken ook die potensiaal wat die jaar opgelewer het, sê Rossouw. “Dit is ’n skou waar kelders op ’n gelyke vlak kan deelneem, asook ’n skou wat ’n ryk geskiedenis het nadat die Swartland Jongwynskou in 2002 gestig is. Die skou het begin met die Groot Kampioen-trofee. Nou, 21 jaar later, spog die geleentheid met 14 trofeë om die uniekheid van die Swartland te beloon.”
Volgens Rossouw het die 2023 beslis sy uitdagings gehad. “Om met die natuur te werk, hou jou nederig. Die aanloop na die 2023-oes was baie goed. ’n Koue winter met goeie reënneerslae. Wingerde het die hele groeiseisoen baie mooi vertoon. Die min reënval in September het egter sy tol geëis en hoewel die druiwe visueel daar was, was daar nie gewig in die druiwe nie. Vroeë kultivars soos sauvignon blanc, chenin blanc, shiraz en pinotage het werklik baie mooi wyne gemaak. Laat reënval in die parsseisoen het egter Cabernet Sauvignon en Merlot uitdagend gemaak. Wyne is baie meer elegant en minder uitgesproke. Die 2023-oes was baie kleiner as verwag.”
Ten spyte van al die uitdagings, is wyne van baie hoë gehalte geproduseer. Dit is wat die wynbedryf so uniek maak, nie een seisoen is dieselfde nie. Almal betrokke, van die produsent tot die kelder, moet elke seisoen anders benader. Die Jongwynskou word beskou as ’n tegniese kompetisie en platform wat aan wingerdboukundiges en wynmakers die geleentheid bied om hul wyne van die nuutste oesjaar teen dié van hul eweknieë te meet, en ook die gehalte van nuwe wyne en wynstyle op ’n groter platform te toets. Die resultate van nuwe tegnieke in die wingerd sowel as in die kelder word so gemeet. Dit bied ook die geleentheid vir die wynmakers om nuwe style te ontwikkel en so hul eie bottelwyne of grootmaatwyne aan kliënte te verbeter.
“Ek glo die relevansie van die Jongwynskou word onderskat omdat dit gesien word as ’n grootmaat-kompetisie. Die Jongwynskou glo ek is die plek waar baie van Suid-Afrika se beste wyne gebore word. Dit gee ook ’n goeie oorsig van wat in die betrokke streek gedurende die seisoen gebeur het,” sê Rossouw.
Die gewildheid van die Swartland- en Darling-wingerdgebiede neem jaarliks toe weens die kwaliteit en unieke wyne wat hier geproduseer word. Die gebiede waar wingerde groei, word direk beïnvloed deur hul unieke terroir. Dit is vir wynmakers ’n fees om met die kwaliteit van druiwe uit dié gebiede te werk.
Darling Cellars word vanjaar as die groot kampioen onder plaaslike kelders in dié streek beskou nadat hulle as wenners van die ABSA Groot Kampioen (gehoute shiraz – klas 74:19) aangewys is. Die kelder het ook die trofee vir die vyf beste inskrywings, naamlik die Vinochem-trofee ontvang. Die ander trofeë wat deur die kelder opgeraap is, is die Vinventions Kampioen Sauvignon Blanc (gehoute sauvignon blanc – klas 15:08), die Kotzé Steyn Kampioen Shiraz (gehoute shiraz –klas 74:19), die Porex SA Kampioen Merlot (ongehoute merlot – klas 63:29) en die Séan Nieuwoudt Cinsaut-trofee (ongehoute Cinsaut – klas 58:04).
AA Badenhorst Family Wines wen die Santam Landbou Kampioen Ander Rooi Kultivar (ongehoute Mouvèdré – klas 64:1). Allesverloren is op hul beurt die wenner van die SAIL Kampioen Versterkte Wyn (Cape Vintage – klas 84:08) en Babylon’s Peak stap weg met die CJP Chemicals Kampioen Chenin Blanc (gehoute chenin blanc – klas 9:8).
Pulpit Rock Wines se inskrywings het ook beïndruk met die wen van die Malmesbury Toyota Kampioen Droë Wit Versnit (gehoute chardonnay/ Viognier – klas 2:31), die Wine Machinery Kampioen Cabernet Sauvignon (ongehoute cabernet sauvignon – klas 56:2), asook die Nexus Kampioen Droë Rooi Versnit (gehoute shiraz / pinotage – klas 51:40). Riebeek Valley Wine Co het die Enartis Kampioen Ander Wit Kultivar (gehoute Viognier – klas 19:1) én die Kobus Basson Pinotage (ongehoute Pinotage – klas 70:6) opgeraap.





