Maceala Samboya (24) van Malmesbury word amptelik deel van die Springbok-vroue-rugbyspan se 15-tal kort voor Wêreldrugby se vroue-15-tal-kompetisie.

Die internasionale rugbytoernooi skop eersdaags af met Samboya as die span se nommer 11 of 14.

Samboya, wat minder as ’n jaar gelede dié sport in die spel van sewesrugby vir Wesbank se vrouespan uitgetoets het, het nie die kans laat verbygaan om te wys wat regtig in haar steek nie. Dit is danksy Thomas Chowles, hoofafrigter van die Boland se vroue- sewespan, die Boland Dames, wat haar talent gedurende ’n sewestoernooi raakgesien en besluit het om wel ’n kans met Samboya te waag. Sy het haar kant gebring en kort daarna Louis Koen, afrigter van die Springbok-vroue-rugbyspan, se oog gevang, wat haar na ’n oefenkamp genooi het. Samboya het intussen beïndruk en is verlede maand genooi om by Koen se oefenspan vir die internasionale rugbykompetisie aan te sluit.

Samboya was in vervoering toe die Suid-Afrikaanse landsvlag om haar skouers geplaas is en het die oomblik as ’n groot voorreg beskou. Die spelers het reeds op 4 September in Potchefstroom aangekom ter voorbereiding vir hul eerste wedstryd, wat op 13 Oktober teen Skotland by die Danie Craven-stadion sal plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article