Die plaaslike polisie van Malmesbury het die afgelope Maandag (25 September) inligting ontvang rakende ’n onwettige vuurwapen in die besit van ’n inwoner.
Die inligting het die polisie na ’n perseel in Ilingelethu gelei, wat kort daarna deur die polisielede deursoek is.
’n Gelaaide .22-rewolwer met vyf .22-patrone is by ’n verdagte op die toneel gevind. ’n Verdere 100 los .22- patrone was in ’n sokkie bo-op ’n vrieskas versteek.
Die polisie het op die vuurwapen en ammunisie beslag gelê en drie verdagtes tussen 21, 30 en 34 jaar oud in hegtenis geneem.
Die polisie kon nie teen druktyd bevestig hoe die ander twee verdagtes betrek is en wat tot hul inhegtenisneming gelei het nie.
Die verdagtes het verlede Woensdag in die Malmesbury-landdroshof op aanklagte weens die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie verskyn.
Die stasiebevelvoerder van die Malmesbury-polisie, kol. Benjamin Gqabi, het die inhegtenisnemings verwelkom en sy dank teenoor plaaslike inwoners uitgespreek vir hul toegewydheid tot die bekamping van misdaad in hul omgewing.




