Huis Groeneweide in Darling vier hierdie Vrydag 50 jaar van puik verblyf, uitstaande sorg en hoëgehaltediens, wat dié oord se naam ná vyf dekades steeds vooruitloop.

Huis Groeneweide, ’n tehuis vir bejaardes, met sowat 64 inwoners wat daar gehuisves word, se langverwagte inwyding het op 3 November 1973 plaasgevind.

Ds. Jan Hanekom was destyds vir die spesiale oomblik verantwoordelik.

Dit was sowat 13 jaar nadat die eerste navraag vir ’n tehuis op 30 November 1965 reeds deur die destydse NG-kerkraad ontvang is. Die eerste notule dateer uit die pastorie onder leiding van ene Ds. Heyns as voorsitter, waar bespreking oor die behoefte aan ’n tehuis op 4 Mei 1972 begin het.

Beplanning vir die tehuis, wat onder die destydse departement volkswelsyn en pensioene geval het, het 40 kamers en ses woonstelle behels. Landbank het nog die lening, wat ’n tenderbedrag van R158 700 ingesluit het, goedgekeur.

’n Besprekingspunt wat baie aandag geniet het, was die haarsalon wat uiteindelik meer as die koelkamer gekos het.

’n Geldinsameling in die vorm van ’n gimkana-geleentheid is op 10 Oktober 1972 gehou en was maar net die eerste van vele geldinsamelingsgeleenthede wat sou volg. Hoewel soortgelyke geleenthede die afgelope paar jaar afgeneem het, is alle hulp uit die plaaslike gemeenskappe en potensiële skenkers vandag steeds broodnodig, aangesien inwoners wat nie self vir hul oudag kon sorg nie, gehuisves word.

’n Tradisie wat vandag nog baie gewild is, is die worsverkope, wat jaar ná jaar voortgaan. Huis Groeneweide maak jaarliks wors met vleis wat deur plaaslike boere geborg is. Vanjaar is ’n ongelooflike 2 200 kg se wors, wat in net sewe dae deur die inwoners en personeel gemaak is, verkoop.

Huis Groeneweide is ’n program van Badisa wat ook die grootste organisasie sonder winsoogmerk in Suid-Afrika is.

Hoewel hulle ondersteuning van die vooraanstaande instansie geniet, word sommige inwoners se verblyf deur die staat gesubsidieer. Dié bydraes neem egter jaarliks af en tehuise soos Huis Groeneweide gaan soms gebuk onder ekonomiese druk namate inflasie die oorhand kry. Tog sien hulle kans vir enige struikelblok, terwyl gehaltesorg en puik verblyf nog altyd voorkeur geniet.

Die naam Groeneweide spruit uit ’n kompetisie wat gehou is, vertel die bestuurder, sr. Sandra de Beer.

Ene sr. Urquhart is in 1973 as die eerste bestuurder aangestel. Vandag se voorsitter van die beheerraad is Riaan Neethling met sr. De Beer as bestuurder – voorafgegaan deur Rene Leuvenink en sr. Miempie Thomas.

Huis Groeneweide is uiteindelik gebou, ontwerp deur ’n argitek met die van Stander en ’n bou-aannemer van Moorreesburg, ene CW Le Roux.

Ontbyt het destyds 30c gekos en aandetes was ’n skamele 50c.

Met ’n visie wat streef na gelukkige inwoners wat gekoester word en ’n missie van omvattende, volhoubare en menswaardige sorg en verblyf aan bejaardes in ’n veilige omgewing, bly Huis Groeneweide vandag steeds die eerste keuse van verblyf en rusplek vir bejaardes van Darling en die Weskus.

Die tehuis se infrastruktuur het deur die jare uitgebrei.

Die ou verpleegsters-kwartiere is in 2019 na ’n demensie-eenheid omgeskep. Die ou matronewoonstel is ook deur die jare in twee kamers vir inwoners en kantore verander. Die hele gedeelte is vanjaar in kantore omgeskakel, die sit- en eetkamer is verfraai, die dak het ’n nuwe baadjie gekry en ’n sonkragstelsel is vir beurtkrag aangebring.

Nuwe badkamers en toilette lê vir nou op die horison.

Die tehuis se permanente personeeltal bestaan tans uit 42 werknemers met ses bykomende aflospersoneel. Van die personeel is dit eens dat hulle, van wie al 16 jaar hier werk, steeds nie by enige ander plek sal wil werk as hier nie.

Aansoeke kom van oral in die land en sy grense omdat mense met dié vooraanstaande instituut geassosieer wil word.

Huis Groeneweide se 50-jaar-vieringe het vroeër vanjaar met ’n spoggerige High Tea begin. Nog ’n gesellige geleentheid sal later vanjaar plaasvind; inligting sal nog bekend gemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article