Die Yzerfontein-woonwapark, ’n gewilde bestemming vir vakansiegangers en besoekers aan dié kusdorp, het die afgelope tyd onder misdadigers deurgeloop. Volgens die polisiewoordvoerder Johnatan Filander van die Darling-polisie is besoekers se goedere verlede naweek (Saterdag 28 Oktober) gesteel.

Lede van die groep Western Cape 4×4 and Difflock het onder meer die naweek daar deurgebring toe hulle besteel is. Die kampeerders was ten tyde van die voorval nie daar nie, terwyl ander kampeerders wat ook van die geriewe gedurende die Dassen Eiland-bootresies-uitdaging gebruik gemaak het, reeds geslaap het toe hulle besteel is. Volgens ’n inskrywing op sosiale media is besoekers teleurgesteld deur die ervaring én diens van die personeel in reaksie op die gebeure.

’n Klagte van diefstal is by die plaaslike polisiekantoor aangemeld. ’n Handsak met goedere ter waarde van sowat R10 000 is onder andere een van die goed wat gesteel is.

Niemand is nog in verband met die diefstal in hegtenis geneem nie.

Die Swartland-munisipaliteit het bevestig hy is bewus van die klagtes en voorval van diefstal wat verlede naweek by die woonwapark aangemeld is. “Dit word in ’n baie ernstige lig beskou. Die munisipaliteit het reeds stappe gedoen om veiligheidsaspekte rondom die kamp te verbeter en die nodige gesprekke met die personeel het ook plaasgevind,” het die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, op navraag gesê.

Die Yzerfontein-woonwapark is volgens die munisipaliteit, inwoners en besoekers ’n geliefde fasiliteit in die Swartland.

“Ons streef daarna om ons diens en besoekers se ervaring by hierdie fasiliteit altyd ’n positiewe een te maak,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article