Van links staan Amelia Myburg (ingenieur), Phillip Stander (hoofkodeerder), Finolia April (kaptein), Mia Hardenberg (mediaskakel), Weziwe Jantjies (finansiële beampte), Kelvin-Jean Fortuin (afrigter en mentor), Carissa Paulsen (ingenieur), Charlton Welkom (ingenieur en bouer), Matthew Daniels (hoofingenieur) met Inno, Mark Daniels (ingenieur en innoveerder), Riyaad Bowers (bemanningsingenieur), voor hom, Yusrah Ali (administrasie), Akehl Messias (adjunk-kodeerder en medekaptein), Armelle Myburg (bemanningsingenieur) en Aicha Thiam (veiligheidsbeampte).


Leerders van Wesbank Sekondêr se toekoms blink nadat hulle in 2022 aan ’n nuwe wêreld van robotte bekendgestel is.

Die leerders, wat deel is van die kodering- en robotikaprogram, nou beter bekend as die Innovratix-span, bereik nuwe hoogtes met hul deelname aan ’n string kompetisies.

Kelvin-Jean Fortuin, ’n onderwyser by Wesbank Sekondêr en wat die span se mentor en afrigter is, sê dit gaan nie net daaroor om robotte te bou nie. “Hulle leer so baie in die proses. Hulle bou nie net ’n robot en neem deel aan kompetisies om te wen nie – elkeen van die span vervul ’n baie belangrike en spesifieke rol,” verduidelik Fortuin.

Volgens hom moet byvoorbeeld ’n sakeplan opgestel word, administrasie moet behartig word en hulle moet probleme oplos.

Die program bied dus praktiese beroepsmoontlikhede vir die toekoms, verduidelik hy.

Die span se naam, Innovatrix, het sy oorsprong uit hul deelname aan die FIRST Tech Challenge (FTC) wat sowat drie maande gelede posgevat het. Die mees onlangse oefenkompetisie met hul robot Inno het op 9 Desember plaasgevind.

Sowat 32 skoolspanne moes elkeen ’n robot volgens bepaalde spesifikasies bou en dit programmeer om vasgestelde take binne twee minute uit te voer.

“Dit is soos ’n sakeonderneming wat bestuur word waar elkeen ’n spesifieke rol vervul,” brei hy uit.

Fortuin sê dit is oefenwedstryde wat hulle help om hul robotte vir die opkomende streekskompetisie reg te kry. Die kompetisie word op 20 Januarie gehou.

Alles het in 2022 begin toe die skool se rekenaarlaboratorium in ’n laboratorium van “innovasie” omgeskep is nadat mikro-onderdele van die Wes-Kaapse departement van onderwys aan die skool gegee is.

Vier leerders het in Maart 2023 met ’n prototipe, wat met die mikro-onderdele gebou is, aan ’n SITA-kompetisie deelgeneem, waarin hulle uiteindelik onder die top-10 skole geplaas is. Altesaam 750 leerders het aanvanklik ingeskryf.

Die skool se vernuwende span het kort daarna aandag begin trek en ’n uitnodiging na die parlement gekry om met hul prototipe te gaan spog. Hulle het onlangs aan ’n kompetisie in KwaZulu-Natal deelgeneem, gevolg deur ’n kompetisie in Mpumalanga as deel van die FTC. Die FTC bevorder onder meer selfvertroue, terwyl hulle saamwerk en idees deel, met robotte deelneem, met die voorste tegnologie te doen kry en kreatiewe probleemoplossing toepas – dít alles terwyl hulle vet pret het.

Wesbank Sekondêr se span het wel in Mpumalanga verloor, maar hul talente is daar raakgesien deur Fatima Jakoet, die stigter en uitvoerende hoof van die stigting Sakhikamva, wat besluit het om ’n STEAM-laboratorium aan die skool te skenk. Die laboratorium bevorder wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, kuns en wiskunde.

Die span het die afgelope week ná die eksamen nog daagliks aan hul robot gewerk.

Inno is ook ingespan om leerders van Wesbank Sekondêr se pryse by hul onlangse prysuitdelingseremonie aan hulle te oorhandig.

Hoewel Innovatrix en Inno vir nou ’n bietjie gaan rus, fokus hulle hard op die streekskompetisie om die nasionale kampioenskap in Februarie te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article