Misdaad het in die feestyd geweldig toegeneem in die Swartland, veral misdade wat met dwelms verband hou, sê die plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt.
Volgens hom het die polisie tesame met provinsiale eenhede en Swartland se verkeers- en wetstoepassingsbeamptes verskeie optredes in die Malmesbury-gebied gehou om die misdaad hok te slaan. “Om die dwelmverwante misdade hok te slaan moet ’n holistiese benadering gevolg word. Die gedagte dat dwelms slegs in minder gegoede buurte verkoop of gebruik word moet as ’n mite beskou word, want dwelms is ’n groot probleem,” sê Du Randt.
Hy sê terselfdertyd het huisbrake ook toegeneem met ’n rekord van sake wat aangemeld is. Inwoners by wie se huise en besighede ingebreek is gedurende die tydperk het skade van meer as halfmiljoenrand gely.
Verskeie mense is in hegtenis geneem weens onder meer dronkbestuur en buitelanders wat onwettig in die land is.
In die laaste kwartaal het die polisie reeds 215 optredes gehou met die oog op die bekamping van misdaad, wat vrugte afwerp.
“Inwoners moet [wel] verstaan dat die polisie nie net Saamstaan of Ilingelethu bedien nie maar amper soveel as 300 plase, Abbotsdale, Kalbaskraal, Chatsworth met Silvertown ingesluit, Riverlands en dan die breë Malmesbury,” verduidelik Du Randt.




