’n Verdagte is op 16 Januarie suksesvol deur lede van die Malmesbury-polisiestasie aangekeer en in hegtenis geneem vir die onwettige handel van dwelmmiddels.
Die polisie het inligting rakende ’n dwelmhandeltransaksie ontvang en daarop reageer. Volgens die inligting sou die transaksie glo in Cizanistraat, Illingelethu, plaasvind.
Met die polisie se aankoms omstreeks 12:00 Dinsdagmiddag is die perseel deursoek, wat gelei het tot die ontdekking van 200 mandrax-tablette en kontant ter waarde van R16 182,50.
Die polisie het op dwelms en die geld beslag gelê en ’n 31-jarige verdagte vir die onwettige handel van dwelms in hegtenis geneem.
Die verdagte het Woensdag 17 Januarie in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
In nog ’n voorval het lede van die polisie se teenmisdaadeenheid ’n 33-jarige verdagte op die N7-snelweg in hegtenis geneem. Die eenheid het Woensdag 17 Januarie omstreeks 15:00 gedurende ’n roetine-patrollie ’n verdagte op die N7-snelweg gewaar.
Die polisielede het by nadere ondersoek 27 mandrax-tablette in die verdagte se besit gekry.
Die verdagte het dieselfde dag nog in die plaaslike hof op aanklagte van onwettige handel in dwelms verskyn.
Kol. Luthando Nosilela, stasiebevelvoerder van die Malmesbury-polisie, het die gemeenskap bedank vir hul toewyding tot die voorkoming van misdaad.



