Duisende oudmatrikulante van oor die land heen het die afgelope Vrydag hul matriekeindeksamen-uitslae ontvang, en hoewel sommige nie juis met hul uitslae beïndruk was nie, was ander weer in die wolke.
Uné Beneke (18) van Malmesbury was een van die oudleerders wat die oomblik as ’n groot verligting beskryf het kort nadat sy as die skool se topleerder aangewys was. Hoërskool Swartland se oudleerders het ’n vinnige saalbyeenkoms bygewoon waartydens die skoolhoof, Justus Schoonraad, die skool se top-12-leerders en ander uitslae bekendgestel het.
Uné het ’n A+ gemiddelde van 92,42% aangeteken asook agt A’s. Sy was verlig en terselfdertyd verheug toe sy besef sy het haar doelwit bereik. Uné begin eersdaags Aktuariële Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Haar ouers, Heinrich en Janel, is ewe trots op hul dogter en ook verlig dat sy uiteindelik haar uitslae ontvang het.
Talita Engelbrecht was in die tweede plek met ’n A-gemiddelde van 89,85% asook agt A’s.
Lara Steyn spog met die derde plek met ’n A-gemiddelde van 89,57% en sewe A’s.
Schoonraad het almal wat hul A-gemiddelde of ’n A met ’n persentasiepunt gemis het, aangemoedig om aansoek te doen vir die hermerk van hul onderskeie vraestelle.
Altesaam 139 leerders by dié skool het verlede jaar die Nasionale Seniorsertifikaateksamen geskryf, van wie 137 leerders geslaag het. Die slaagsyfer is 98% met ses A+-gemiddeldes; 11 A-gemiddeldes, 88,5% Baccalaureusgraad-toelating, 8% met diplomatoelating en 2% wat gemagtig is tot tersiêre opleiding. HSS pronk met 167 vakonderskeidings.
Die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg pronk op sy beurt met ’n ongelooflike 100%-slaagsyfer, waarvan 100% toelating tot tersiêre opleiding ontvang het. Dié skool het 11 top-kandidate wat ’n A-gemiddelde ontvang het, van wie Alica Bester heel boaan die punteleer pronk met ’n A-gemiddelde van 90,8%. Alicia was “baie bly en verlig” toe sy haar uitslae ontvang het. Hoewel sy geweet het sy het hard gewerk, het Alicia egter nie gedink sy gaan heeltemal só goed doen nie. Sy begin eersdaags tandheelkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) studeer. Alicia sê sy het reeds in gr. 10 besef sy wil in daardie rigting studeer.
Altesaam 87,3% het universiteitstoelating gekry, terwyl 68 leerders toelating tot ’n Baccalaureusgraad ontvang het. Sewe leerders het toelating tot diplomastudies en drie tot sertifikaatstudies. Alicia spog met sewe A’s, terwyl Divan Brink in die tweede plek ook sewe A’s ingeploeg het. Stephan Meintjies was derde – ook met sewe A’s.
Die Hoërskool Porterville het altesaam vier A-gemiddelde leerders uit 2023 se Nasionale Seniorsertifikaateksamen opgelewer. Carli Perold was die topleerder met ’n gemiddelde van 86%. Sy begin vanjaar haar mediese graad (MBChB) aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Dié droom kom reeds sedert agtjarige ouderdom. “Ek het nog nooit ’n plan B gehad nie,” voeg sy by. Dié droom het juis gedien as motivering om akademies te presteer – nie om noodwendig as topleerder aangewys te word nie. Carli het haar finale toelating tot die US ontvang kort voordat sy haar matriekuitslae op 19 Januarie gaan afhaal het.
Marli Coetzee is in die tweede plek met ’n gemiddelde van 85%, terwyl Anri van der Merwe in die derde plek ’n gemiddelde van 83,7% losgeslaan het. Nicola van der Merwe het 81,5% ontvang. Die skool se slaagsyfer is 96.4% en het ’n universiteitstoelating-syfer van 62,5%.
Wesbank Sekondêr in Malmesbury het weer die geleentheid gekry om met sy topmatrikulante te spog nadat elkeen van hulle verlede jaar die meeste pryse gedurende hul jaarlikse prysuitdeling ontvang het.
Byron Frans is as die topmatrikulant van 2023 aangewys. Hoewel hy nie sy gemiddelde wil bekend maak nie, het Byron tog gesê hy gaan ’n BCom Rekeningkunde-graad aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Clide Hendricks is tweede met ’n gemiddelde van 72%, terwyl Jordan Mckenna in die derde plek met ’n gemiddelde van 69,1% uitgeblink het.
Wesbank Sekondêr het ’n slaagsyfer van 78,1%.
Schoonspruit Sekondêr het op sy beurt ’n slaagsyfer van 76,5% aangeteken met 12 uit 20 vakke wat ’n 100%-slaagsyfer gekry het. Die skool se matrikulante het 26 onderskeidings opgelewer en 81 oudleerders wat toelating tot ’n Baccalaureusgraad ontvang het. Hul topmatrikulant van 2023 is Kaitlin van Schalkwyk met Ashleen Leen tweede en Leighton Sass derde.
Die Hoërskool Piketberg se topmatrikulant van 2023 is Gerhard Brand met ’n A-gemiddelde van 84,4% en ses A’s. Erasmus Mouton spog met die tweede posisie met ’n A-gemiddelde van 83,7% en vyf onderskeidings. Gerhardt Müller was derde met ’n A-gemiddelde van 80,3%.
Die Hoërskool Piketberg het ’n slaagsyfer van 97,1%.
Illingelethu Senior Sekondêr se totale slaagsyfer vir die 2023 NSS was 67,2%.





