Soms op ’n Sondag, vroegerig elke Januarie, sien Swartlandse motoriste ’n beskeie groepie mense met plakkate aanstap Malmesbury toe – vriendelik, maar doelgerig. Ons dra plakkate wat aanbeveel ‘Ry Veilig’. Sommige motoriste toet en waai, ander verkies om weg te kyk. En dis ook oukei.
Vanjaar het ons vir die tiende Sondag die 4,8 km van ’n ongelukstoneel af Malmesbury toe gestap – ter herdenking daaraan dat ons nefie op 5 Januarie 2014 nie self die roete dorp toe kon voltooi nie. Dit alles weens ’n ongeluk waarin ’n enkele voertuig betrokke was – kort ná 12:00 daardie Sondagmiddag. Geen drank of roekeloosheid was betrokke nie; die hofsaak het dit so uitgewys.
Christiaan Marais was pas klaar met matriek. Sy lewe het wyd oop voor hom gelê, met plek in ’n Stellenbosch-koshuis en vooruitsigte in aktuariële wetenskap.
Hoe reageer ’n mens as ’n ramp jou lewenspad slaplinks klap sonder dat jy gewaarsku is? Jy staan elke dag van die volgende week langs die bed in die waakeenheid waar die jongman lê en jy bid, bid, bid. Saans ry jy huis toe en onthou die dokter se woorde kort ná die ongeluk: Christiaan se breinstambesering is finaal; dis onomkeerbeer. Alles wat ons intussen hieroor lees, bevestig dit: Die finale groot groet is onafwendbaar.
Is ’n mens naïef om sulke tye steeds vir wonderwerke te bid?
Medici kom vra versigtig of die familie orgaanskenking sal oorweeg.
My broer dra sy kind se mooi matriekpunte aan hom oor; onseker of Christiaan dit kan hoor en verstaan, al glo verpleegpersoneel dat gehoor die sintuig is wat laaste gaan.
Ons moes Christiaan 11 dae later begrawe – gebroke, met ’n uitgerekte hofsaak wat wag.
In ons land vol emosionele beserings reageer mense verskillend op trauma: Woede of verwyte, vlug, vries, selfs kwaad raak vir God. Sommiges brand ’n kers, soek hul geliefde in ’n ster, skryf Facebook-briefies of hou steeds jaarliks ’n verjaardagfees. Sommiges gee die oorledene se besittings dadelik weg, andere trek die kamerdeur dig toe en hou dit so. Party verf ’n skildery, skryf ’n gedig, plant ’n boom of skep ’n tuin vir hul gestorwene.
Twee Moorreesburg-broers hou jaarliks geldinsamelings vir die ACVV-ouetehuis ná hul ma se sterfte.
“ ’n Mens dink jy’s dapper totdat jy ’n kind verloor; dan word jy mak soos ’n lammetjie,” sê Randy Marinus, ’n Paarlse oudrugbyspeler, in Die Burger.
Hoe ’n mens reageer, is ’n hoogs persoonlike saak, juis omdat dit spreek van ’n baie diep seer.
My broer het gekies dat belangstellendes jaarliks op ’n Sondag na aan die ongelukdatum simbolies van die ongelukstoneel af dorp toe stap. Want as Christiaan kon kies, sou hy eerder self gestap het as om in die ongeluk te wees, glo ons.
’n Mens kan jou nooit vir sulke hartseerroetes voorberei nie, daarom ons versugting vir almal wat treur: Probeer jou trauma verwerk, praat met kundiges, omskep die hartseer in klein bakens van hoop. En probeer die ‘Ry Veilig’-mantra na jou emosionele lewenspad oordra.



