Die Swartland-munisipaliteit en die gemeenskap van wyk 11 moes verlede week ’n sagmoedige reus groet.
Rdl. Colin Daniels het verlede week op 5 Februarie sy laaste asem uitgeblaas nadat hy sy stryd teen kanker verloor het.
Daniels het in 2016 as raadslid by die Swartland-munisipaliteit aangesluit waartydens hy tussen 2019 en 2020 as voorsitter vir die portefeuljekomitee van die munisipale bestuurder, administrasie en finansiële dienste opgetree het.
Daniels het onder meer ook tussen 2020 en 2021 gedien as voorsitter van die Munisipale Komitee oor Openbare Rekeninge (MPAC) en was ook die amptelike verteenwoordiger van die Weskus-distriksmunisipaliteit.
“Hy was geliefd onder die gemeenskap van wyk 11 en was lief vir sy mense,” vertel sy mederaadslid, die onderburgemeester Anet de Beer. Sy het vir jare nou saam met Daniels gewerk en hom gesien as haar “wingman, wat nou sy vlerke gekry het.”
Volgens haar was hy ’n ongelooflike lojale mens.
“Hy was ’n man met diep integriteit en inbors. Hy het ook nie van enigiemand nonsens geduld nie en ons behoorlik gas gegee, juis omdat hy baie deeglik in sy werk was. Niemand het finansiële state soos Daniels deurgegaan nie,” spog sy met haar oudkollega.
Daniels, wat by die twee meter lank was, het ’n vertrek met sy teenwoordigheid gevul – nie oor sy lengte nie, maar sy menswees. “Almal het geweet wanneer hy by ’n vertrek ingestap het,” voeg sy by.
Hy was ook hardkoppig wanneer dit by sekere goed gekom het, skerts sy. “Colin het vas geglo in iets en daarby gestaan.”
Daniels, wat in die Swartland-hospitaal oorlede is, het ’n kort siekbed gehad.
Volgens die onderburgemeester was die hospitaal en sy personeel goed vir hom.
Hy het twee dae voor sy dood op sy sterfbed nog gevra dat sekere sake in sy wyk namens hom afgehandel of na omgesien moet word.
“Hy het omgegee vir sy gemeenskap. Sy familie en sy geloof was ook altyd sy eerste prioriteit.”
’n Gedenkdiens is die afgelope Woensdag ter nagedagtenis van Daniels gehou met ’n begrafnisdiens wat Saterdag 10 Februarie by die St. Thomas Anglikaanse Kerk op Malmesbury plaasgevind het.
Hy laat sy vrou, Vanessa, sy dogter, Samantha, en sy kleindogter agter.




