André Smith met sy nuwe lekkerleesbundel wat sopas verskyn het.


Met sy tweede boek wil André Smith, ’n gereelde rubriekskrywer vir Media24, inspirasie bring.

André Smith met sy nuwe lekkerleesbundel wat sopas verskyn het.

Dié boek, Die Knokkerboomblom sal weer bot, volg sowat twee jaar nadat hy sy debuutbundel, My Sandveldbos, in 2021 die lig laat sien het. Sy debuutbundel is as ’n selfpublikasie gepubliseer. Sy tweede bundel is verlede jaar deur Malherbe Uitgewers in KwaZulu-Natal vrygestel.

Oor sy nuutste bundel het André die volgende te sê:

“Dis my omgeehart vir my medemens wat my hand beweeg om te skryf. Waar ander net die vaalte en eenvoud sien, gewaar my oog die mooi van die mens voor my. Daar is soveel van ons doodgewone Suid-Afrikaners wat nooit die erkenning sal ontvang vir die positiewe invloed wat hulle in ons gemeenskappe het nie. Ek is passievol daaroor om hierdie mense se stories te vertel. Iemand moet en sal weet van hulle, want daar is soveel inspirasie, wysheid, omgee en hoop in hierdie stories opgesluit. Met soveel uitdagings wat ons as Suid Afrikaners deesdae in die gesig staar, wil elke inspirasie-storie en rubriek ’n vars briesie hoop na die leser bring. Elke storie en rubriek wil die boodskap oordra dat jy nie alleen is nie; dat daar soveel goed en mooi in hierdie land van ons is en dat dit absoluut die moeite werd is om dit met mekaar te deel. Met hierdie publikasie, Die knokkerboomblom sal weer bot, wil ek jou uitnooi om nuwe hoop en moed te skep, saam te lag en wonder en sommer net weer tuis te voel in ons mooi land. En onthou – ons is Afrika en Afrika is ons! Geniet die lees.”

Smith voeg by dat hy geweldig trots is op hierdie mylpaal wat hy behaal het. “Ek is absoluut seker daarvan dat die lesers hierdie boek van my baie sal geniet. Dis vir my ook aangenaam om ons lesers in te lig dat my boek vir die eerste keer nasionaal en internasionaal beskikbaar sal wees”.

Die Knokkerboomblom sal weer bot is op aanvraag beskikbaar. Kontak Smith gerus by 083 308 9165 om jou kopie te bestel.

Die boek kan ook aanlyn bestel word deur e-pos te stuur na sales@malherbe-uitgewers.co.za of WhatsApp 068 301 7883. Dit is ook op Amazon as Kindle of in sagteband beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article