’n Rooftog by ’n sakeperseel het die afgelope Woensdagaand (17 April) plaasgevind nadat twee onbekende mans die eienaars van ’n Spaza-winkel met vuurwapens gedreig het.
Volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder van die Malmesbury-polisie, het die rowers die perseel omstreeks 19:50 binnegekom en hul vuurwapens op die eienaars teenwoordig gerig.
Die verdagtes het die eienaars van hul selfone, sigarette en ’n onbekende bedrag geld beroof voordat hulle met ’n Volkswagen Polo weggejaag het.
Die verdagtes is kort daarna deur inwoners van Ilingelethu in motors agternagesit. Die jaagtog is gevolg deur ’n skietery op die N7-snelweg naby Abbotsdale, waartydens die rowers beheer oor hul voertuig verloor het, brei Du Randt uit. Die verdagtes het daarna te voet tussen die huise deur gevlug.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie is die volgende dag van ’n vuurwapen in ’n erf in Abbotsdale in kennis gestel. “Die moontlikheid dat die vuurwapen aan een van die rowers behoort, word nog ondersoek,” voeg Du Randt by.


