Nitrophoska verander van eienaar nadat die maatskappy se besigheid en bates op 31 Maart vanjaar amptelik deur Consolidated Limeworks (Edms) oorgeneem is.

Die nuus is onlangs in ’n verklaring, uitgereik deur Pieter Gildenhuys, waarnemende uitvoerende hoof, aan bestaande kliënte bekend gemaak.

Na aanleiding van bogenoemde is die aandele van Consolidated Limeworks (Edms) Bpk deur ETG Inputs Holdco Limited (EIHL), ’n filiaal van ETG, oorgeneem.

“EIHL as die enigste aandeelhouer van Consolidated Limeworks (Edms) Bpk sal hierdie onderneming as deel van sy visie om gehalte-produkte, professionele en betroubare raad en persoonlike dienste aan sy kliënte te verskaf, bestuur,” lui die verklaring.

Consolidated Limeworks (Edms) Bpk sal voortaan steeds as Nitrophoska handel dryf.

Volgens die verklaring sal daar geen veranderinge wees in die manier waarop kliënte bedien word nie.

“Ons waardeer en bedank u vir u samewerking en waardeer u besigheid opreg. Ons is daartoe verbind om ons verhouding met u deur Consolidated Limeworks (Edms) Bpk, wat as Nitrophoska handel dryf, te groei,” voeg Gildenhuys by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article