Heinelize Knoesen (42) groet Sinethemba Swartland, ’n organisasie sonder winsbejag, wat onder haar bekwame leisels nuwe hoogtes bereik het.
Knoesen se passie vir gemeenskapsontwikkeling het reeds in 2012 in Abbotsdale met die jeug begin toe sy vakansieprogramme in die omgewing gereël het.
Daarna het sy by Goedgedacht Trust aangesluit om haar liefde vir gemeenskapsontwikkeling nog verder te vat. Ná twee en ’n half jaar verskyn die pos as projekbestuurder by Sinethemba om die gemeenskapsgesondheidsprogram in die Swartland voortaan te bestuur, wat sy die afgelope agt jaar met die grootste dryfkrag gedoen het.
Knoesen, ’n ma van drie, vier talle mylpale terwyl sy die organisasie, wat vir byna ’n dekade deel van haar lewe was, vaarwel roep. Sy is vandag trots om te kan sê dat sy Sinethemba se nuwe visie help ontwikkel het. Knoesen was ook aan die voorpunt van die organisasie se nuwe handelsmerk en die ontwikkeling van hul webblad en sosialemediaplatform.
Die daarstelling van die Darling-satelliet van Sinethemba, saam met die opening van hul kantoor in Darling en Moorreesburg, is ook onder Knoesen se bestuur bewerkstellig.
Sy het ook die Sinethemba Happy Hearts-program vir gestremdes drie jaar gelede van stapel gestuur. Dit is ’n projek wat haar baie na aan die hart lê.
Een van die hoogtepunte by die organisasie was om saam met die mense met gestremdhede te werk. In die eerste bestaansjaar van die program waartydens hulle die bewusmaking van wêreldgestremdheid met ’n optog in Alfatsraat gevier het, koester ’n spesiale herinnering haar. “Die interaksie met die mense en hoe hulle ’n mens net aanvaar het en die liefde wat hulle vir ’n mens toon, is iets wat my sal bybly,” voeg sy by.
Knoesen het dit baie geniet om deel te wees van mense se persoonlike ontwikkeling. “My bestuurstyl fokus grootliks op mentorskap, afrigting en persoonlike ontwikkeling; om dit te kon sien in mense en die organisasie en hoe hulle gegroei het. Dit is iets waarop ek trots is. Ek is baie dankbaar om deel van mense se ontwikkelingsreis te wees.”
Knoesen het gehou van die feit dat die organisasie diversiteit het wat ’n verskeidenheid programme en aktiwiteite aangebied het.
“Hul benadering tot ontwikkeling is van voor geboorte tot die gryse ouderdom.
“Ek dink ek gaan die verbintenis met so erkende organisasie, wat groot waarde tot die Swartland voeg, mis.”
Knoesen bieg en sê dit is tyd om haar vlerke te sprei. Sy wil graag haar meestersgraad in gemeenskapsontwikkeling voltooi. Haar toekomsplanne sluit verder ’n vrouebemagtigingsbeweging in die Swartland in.
Haar wens vir ’n beter Suid-Afrika is dat mense meer empatie vir mekaar, vir mekaar se omstandighede, mekaar se stories en mekaar se agtergrond sal hê. “As mense mekaar net weer as mense erken en aanvaar en terugkeer na ou waardes, sal dit ’n groot verskil in ons land maak sodat mense nie so selfgesentreerd is nie, maar meer bewus is van almal se behoeftes,” deel sy haar hoop met inwoners.





