Dit was ’n besige paar weke vir die Weskus-distriksmunisipaliteit se brand-en-reddingsdienste nadat ’n brand onlangs meer as 4 000 hektaar fynbos in die omgewing van Porterville vernietig het.
Lede van die Weskus-brandweerdienste, die Bergrivier-munisipaliteit, Working on Fire, die Brandvereniging en Cape Nature het verlede week hard gewerk om die brand in die Porterville-omgewing, wat agt dae gewoed het, te bedwing en te blus.
Die Weskus-brand-en-reddingsdienste is deur Cape Nature erken vir hul harde werk en onwrikbare ondersteuning gedurende die 2023-’24- brandseisoen.
Die toekenning is onlangs deur die portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsdienste, die raadslid Joos Engelbrecht, aan die brandweerhoof, Bertus Senekal, oorhandig.
Behalwe om hul pligte in hul eie diensgebied na te kom, staan die munisipaliteit boonop naburige munisipaliteite by wanneer hulp benodig word.
Die WDM se brandweerdienste het in Januarie 2024 die Kaapse Wynlande ook tydens die verwoestende brande in die Wolseley- en Worcester-omgewings bygestaan.





