Wie onthou die dae van teelepeltjies versamel, dan hang die bewyse van dorpe waardeur die gesin gery het, teen hul sitkamermure – meestal binne spesiaal gemaakte houtafbeeldings van Afrika?
En sout- en peperpotjies wat stelletjie vir stelletjie langs mekaar in die tannie se uitstalkaste staan?
Jare later het mense se versamellus geensins gekwyn nie. Dit het eerder raarder geraak. Want intussen het Batman- en ander fantasiefigure na vore gekom en het dinosourusse uit hul skuilplek in ensiklopedieë geklim.
Danksy die internet lees ons van goed wat mense versamel – koekblikke; meer as ’n miljoen vuurhoutjiedosies (die oudste dateer uit die 1870’s); karre (vir klein of volwasse seuns); ’n gravin wat bedpanne versamel; T-hemde; kameras; trekkers of treine, soos Stellenbosch se Winelands Light Railway-stoomtreine; horlosies; gewere; messe; kieries; klaviere; skroewedraaiers; hoede; medaljes; kondome; vliegtuignaarheidsakkies; borsspelde; kopbene; pruike; hopies naeltjie-pluis.
Daar’s versamelings CD’s en telefone; die Durbanse bejaarde met meer as 2 000 clivia-plante; en die Suid-Afrikaanse Vockerot-gesin wat fotorame vol spelfoute van dié vreemde van bewaar.
En ’n onderwyseres wat vir ’n leerder vertel het sy hou van uile – min wetend hóéveel en watter ondenkbare uil-items sy in die jare daarna present sou kry.
’n Tandarts van Georgië hou sedert 2012 die Guinness-wêreldrekord met die grootste verskeidenheid tandepasta-buisies. Vanjaar sluit sy 2 037 buisies geure in soos bamboes, roos, sjokolade, spek, wasabi en whisky. Daar is vuurpyl-vormige en krytvormige Crayola-buisies, houers uit die Tweede Wêreldoorlog se loopgrawe asook ruimtevaarderbuisies. Twee geure wat dr. Kolpakov gekoop het, maar nie wil uittoets nie, is “oogbalsap” en “bloed van ruimtewesens”.
’n Reusagtige skoenversameling het berug geraak toe die Filippynse presidentspaar in 1986 uit hul land verdryf is. Terwyl Imelda Marcos (sy word binnekort 95) en haar diktatorman hul mense onderdruk het, het sy ongeveer 3 000 pare skoene versamel. Die Guinness World Records (GWR) beskryf hul dade as ‘The Greatest Robbery of a Government’.
’n Suid-Afrikaner het 3 000 dasse; ’n Kapenaar het 60 jaar lank gehalte-wyn en -whisky versamel. Vroeg vanjaar is Brittanje se Martyn Tovey aangewys as die mens met die grootste versameling Guinness-wêreldrekord-goeters: Nadat hy as 11-jarige sy eerste GWR-jaarboek as Kersgeskenk gekry het, beloop sy versameling oor ’n verdere 56 jaar nou 3 089 versamelaarsitems, waaronder 816 GWR-jaarboeke.
Kenners verduidelik die verskil tussen versamel en opgaar: Versamelings word netjies gekategoriseer in chronologiese of onderwerptemas, terwyl opgaar ’n sinnelose opeenhoping van goed beteken. Hierteenoor huisves mense met private versamelings inderwaarheid museums propvol kuns, kennis en geskiedenis.
Tog bly die vreemdste versameling die afgestorwe tante wie se ouetehuiskamer opgeruim moes word.
Binne ’n koevert vind die familie stukkies tou – almal redelik kort.
Eers toe hulle die bewerige handskrif op die koevert lees, kon hulle verstaan: ‘Toutjies te kort vir gebruik’.





