Spaza-winkels en hul eienaars in die omgewing van Ilingelethu word die afgelope maand deur gewapende rowers geteiken.

Só het ’n plaaslike polisiewoordvoerder van Malmesbury, sers. Henry du Randt, bevestig. Die rooftogte het die afgelope maand (Junie) elke Sondagaand tussen 18:00 en 19:00 plaasgevind.

Volgens hom blyk dit die vermeende rowers bestaan uit drie gewapende mans, van wie een met ’n vuurwapen gewapen is, terwyl nog twee rowers elk met messe gewapen is.

“Die werkers word aangehou of aangerand,” voeg hy by.

Die rowers vlug kort daarna te voet met verskeie produkte, insluitend onbekende bedrae geld.

Die plaaslike polisie is die afgelope Sondagaand (23 Junie) weer na ’n soortgelyke voorval ontbied. “Die gemeenskap wou nie die polisie toelaat om ’n (verdagte) in hegtenis te neem nie.” Volgens Du Randt was die verdagte glo deel van ’n bende wat weer eens ’n winkel in Holomisa probeer beroof het. Du Randt sê die werkers van die winkel het die rowers dié keer teëgesit en daarin geslaag om een van hulle in die winkel toe te sluit.

“Die 24-jarige man is later deur die polisie in hegtenis geneem,” het Du Randt bevestig.

Die verdagte sal vandag in die plaaslike landdroshof op aanklagte van sakeroof verskyn. Die ander verdagtes is steeds op vrye voet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article