Anzél is terug in die Boland met ’n nadere blik op van die beste wynlandgoedere in die gebied.


Die vierde seisoen van Anzél in die Boland begin vroeg in Julie en kykers kan hulle gereed maak vir die mees uiteenlopende seisoen nog. Anzél sien om na spesiale wyn, skilderagtige landskappe, avontuurlustige aktiwiteite – en hartroerende stories.

“Ek is so bly om terug op die lug te wees. Ek het dit vreeslik gemis om die omgewing se stories vas te vang en al die mooi plekke met ons kykers te deel. Ek moes weer gewoond raak aan al die kameras, maar ek het vinnig weer my ritme gevind,” vertel sy.

In dié seisoen maak sy onder meer ’n draai by Fuselage Wines, waar sy saam met die Protea-vlieënier Alewyn Burger agter sie kontroles van ’n vliegtuig inskuif. “Dit was rêrig ’n uitsonderlike geleentheid. Die kameraspan het hierdie spesiale ondervinding ongelooflik mooi vasgevang en ons het sommer besluit om die seisoen met dié episode te begin,” sê sy opgewonde.

Anzél en die span maak ’n draai by Boschendal, die tweede oudste wynplaas in die Wynlande. Daar leer hulle ’n bietjie meer oor herlewingsboerdery en bly oor by die nuwe toeriste-aantreklikheid Camp Canoe.

Kykers kan ook uitsien na ’n kuiertjie op Doolhof buite Wellington. Anzél vlieg met ’n helikopter na dié pragtige wynlandgoed, net onder die Bainskloof-pas, waar hulle heerlike wyne en kos proe en met elektriese fietse ry.

“Wat ’n ongelooflike ervaring! Ons het ook saam met Karen Zoid gekuier,” sê Anzél. “Haar wyn ‘Sy Raas’ word op Doolhoof gemaak, en ons het gesels oor dinge waaroor sy nog nie op TV gepraat het nie – haar professoraat, die verlies van haar ma en hoe om ’n goeie ouer te wees. Dis gewis ’n kant van haar wat ’n mens nie aldag sien nie.”

Anzél besoek ook plekke soos Groote Post langs die Weskus, Benguela Cove buite Hermanus, Meerlust buite Stellenbosch en GlenWood Vineyards in Franschhoek.

“Die vierde seisoen van Anzél in die Boland is sonder twyfel die mees diverse seisoen nog. Nadat ek swanger was, het ek besef die Boland het baie om te bied buiten wyn. Ek wil ook hierdie verskillende trekpleisters met die kykers deel.”

Anzél in die Boland begin Vrydag 5 Julie 2024 om 18:30 net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article