D
Die ontwikkeling van die nuwe nege putjies van die Malmesbury-gholfbaan is goed op dreef.
Só het Francois Smith van River Leaf Investments onlangs vanaf die splinternuwe skoonveld in aanbou bevestig.
Plaaslike boere in die omgewing van Malmesbury was aanvanklik in die sestigerjare vir die ontwikkeling van die oorspronklike gholfbaan en sy nege putjies verantwoordelik, bygestaan deur die kennis en vernuf van die legendariese Gary Player.
Die Swartland-munisipaliteit het destyds – op 9 November 2005 – goedkeuring aan die ontwikkelaar Gerry Rehrl verleen om Mount Royal as ’n omheinde veiligheidsleefstyllandgoed te ontwikkel. Die beplande ontwikkeling sou uiteindelik uit altesaam 726 wooneenhede, ‘n kantoorpark, ’n 18-putjie-gholfbaan met ‘n opgegradeerde klubhuis en ’n Renosterveld-natuurreservaat van 18ha bestaan.
Rehrl was vir die grootmaat-dienste-infrastruktuur van die projek verantwoordelik, asook fase een, wat 303 woonerwe ingesluit het.
River Leaf Investments het met Smith aan die spits intussen al die onontwikkelde grond by Rehrl gekoop en ook die verantwoordelikheid oorgeneem om die gholfbaan en ander infrastruktuur verder te ontwikkel.
Die hele gholfbaan is deur Robbie Marshall van die Golf Data-groep ontwerp, het Smith verder in ’n verklaring gesê.
Bouwerk van die nuwe nege putjies het reeds in November 2023 begin.
“Volgens die beplanning behoort hierdie nege putjies teen die einde van Desember vanjaar voltooi te wees waarna dit en vroeg in 2025 speelbaar sal wees,” voeg hy by.
Dit sluit die voltooiing van die sandkuile en setperke in.
Die bestaande nege-putjie-baan, wat deur die Malmesbury-gholfklub bestuur word, sal voortaan in 2025 heeltemal opgegradeer word om by die nuwe ontwerp in te pas.
Smith bevestig dat hulle in vier maande wonderwerke verrig het danksy die genade van Bo en dat die weer saamgespeel het. Hy voeg by dat hulle boonop voor skedule is.
Die nodige voorsorg vir die winterreën is ook getref deur gras uit die omgewing te koop en die nuwe speelvelde daarmee te bedek.
Die bestaande klubhuis word binnekort opgeknap en opgegradeer om uiteindelik deel van ’n groter buiteklub-fasiliteit te vorm, waar ander sportkodes beoefen sal word.
Die beoogde fasiliteite sluit ’n gimnasium in en sal onder meer voorsiening maak vir tennis- en bergfietsentoesiaste.
.





