’n Sestigjarige man is op Sondag (14 Julie) in ’n ernstige botsing tussen ’n motor en ’n bus op die N7-snelweg buite Moorreesburg dood.

Die botsing volg kort nadat ’n lid van die Moorreesburg-polisie omstreeks 20:00 Saterdagaand (13 Julie) ’n klagte van die Piketberg-polisiekantoor af ontvang het rakende ’n roekelose bestuurder op die N7-snelweg. Die bestuurder van die betrokke voertuig het in daardie stadium in die rigting van Moorreesburg gery.

Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder AO Nicolette Visagie het die polisie van Moorreesburg op die klagte reageer, maar nie daarin geslaag om die voertuig wat deur die Piketberg-polisie beskryf is, te identifiseer nie.

Die polisielede het kort daarna om 20:10 inligting van ’n botsing op die N7-snelweg buite Moorreesburg ontvang, waar ’n Golf teen ’n Intercape-bus gebots het.

Een van 26 passasiers wat ten tyde van die voorval op die bus was, het ligte beserings opgedoen, terwyl die bestuurder van die Golf ernstig beseer is.

Die bestuurder is op die toneel deur noodhulppersoneel behandel en later na die plaaslike hospitaal geneem.

Die bestuurder van die Golf was die enigste insittende in die voertuig, voeg Visagie by.

Volgens ooggetuies het die betrokke voertuig oor die rybane van die snelweg beweeg en teen aankomende verkeer gery toe die botsing gebeur het.

Die bestuurder het die volgende dag (Sondag 14 Julie) aan sy beserings beswyk.

’n Saak van slagbare manslag word ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article