Die ongelukstoneel in Voortrekkerweg die afgelope Saterdag, 20 Julie. Foto: Verskaf


’n Voetganger is Saterdagmiddag (20 Julie) in Voortrekkerweg, Malmesbury, dood toe hy glo onder die wiele van ’n bewegende vragmotor gegooi is.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder vir die Malmesbury-polisie, is Gert Fikster (58) deur ooggetuies en in beeldmateriaal van kringtelevisiekameras gesien waar hy omstreeks 12:00 die middag na bewering met ’n jeugdige in ’n rusie betrokke was.

Een van die jeugdiges teenwoordig het volgens ooggetuies en die beeldmateriaal Fikster na bewering gestoot. ’n Vragmotor van Spar het op daardie tydstip uit die Engen-vulstasie se perseel weggetrek.

Die oorlede het na wat verneem word sy balans verloor en onder die agterwiele van die vragmotor beland.

Hy is op slag dood.

’n Klagte van strafbare manslag word tans deur die Malmesbury-polisie ondersoek, voeg Du Randt by.

Een van die jeugdiges is deur die plaaslike polisie vir ondervraging ingebring, en hy sal eersdaags in die plaaslike landdroshof verskyn sodra die ondersoek afgehandel is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article