Die boek Sewe keer Sondig is onlangs in Malmesbury bekendgestel.
Vyf van die 44 skrywers wat saam aan die boek se 25 kortverhale gewerk het, het te midde van gure weer vertel hoe saamwerk met ’n skrywer uit ’n ander agtergrond verloop het. Wanneer ’n skrywer soos Daniël Lotter saam met ’n fiksieskrywer soos Francois Bloemhof werk, of Coen Basson (verlede jaar se wenner van die US Woordfees se kortverhaalkompetisie) saam met Albert Short, skrywer van radioverhale en draaiboektekste, lei hierdie vreemde kombinasies tot stories met vonk.
Anton Döckel het skertsend aangedui die vloekwoorde in sy verhaal kom van sy medeskrywer, die joernalis Pieter van Zyl, terwyl Coen Basson die sekstonele toegeskryf het aan Albert Short, wat deesdae in Australië woon.
Ben Viljoen het saam met Trisa Hugo besluit om met hul verhaal wraak te neem op iemand wat Trisa op sakevlak ingeloop het, terwyl Madelein Rust vertel het oor haar interessante manier van saamwerk met Kerneels Breytenbach. Rust het die gehoor beïndruk met haar gedissiplineerde werksroetine ten spyte van haar dapper stryd met kanker.
“Ek skryf wat binne my is, al raak resensies soms rof”, en “ ’n mens moet leer om ’n renostervel teen resensies te kweek,” is van die ander menings wat sterk na vore gekom het.





